28Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig (Matt 11: 28-30, AFR83).

Die kragtige uitnodiging: Kom, Ek sal jou rus gee, is die tema vir 2026 se Wêreldbiddag vir Vroue en is op Matteus 11: 28-30 (AFR83) gebaseer. Hierdie woorde van Jesus kom ná ’n reeks leringe en wonderwerke in Galilea. Jesus nooi steeds mense uit om, ten spyte van twyfel en vrae, God se koninkryk op ’n nuwe manier te verstaan.

Sy oproep om te kom en rus te vind, is nie net ’n oombliklike verligting nie, maar ’n uitnodiging tot ’n nuwe manier van lewe in verhouding met God. Die konsep van ’n juk mag dalk vandag vir ons vreemd klink, maar dit was ’n bekende beeld in Joodse leringe. Dikwels het dit die wet of godsdienstige verpligtinge gesimboliseer. Jesus bied egter ’n ander soort juk aan – een wat rus bring eerder as om ’n las te wees.

Die vroue van Nigerië het onder leiding van die Internasionale Wêreldbiddagkomitee die program vir 2026 saamgestel. Hul fokus was om troos te bied in ’n tyd waarin mense oral oor die wêreld heen gebuk gaan onder swaar laste, godsdienstige vervolging, armoede en wanhoop. Hierdie gebedsdag, vanjaar op Vrydag 6 Maart, en vir die 96ste keer in Suid-Afrika, verenig gelowiges wêreldwyd in gebed. Meer as 170 lande op sewe kontinente is by hierdie ekumeniese beweging betrokke.

Volgens statistieke van die sendingorganisasie Geopende Deure Internasionaal (OD) is Nigerië een van tien lande waar Christene die ergste vervolg word. Geopende Deure berig dat ongeveer 3 490 mense verlede jaar in Nigerië doodgemaak is as gevolg van hul geloof. Hierdie inligting is in hul jaarlikse Wêreldwaarnemingslys (WWL) beskikbaar wat op 14 Januarie 2026 bekendgestel is. Nigerië is geleë aan die westekant van Afrika en het 211 miljoen inwoners. Dit maak Nigerië die land met die meeste inwoners in Afrika. ’n Verskeidenheid Islamitiese terreurgroepe wat Christene teiken vir terreuraanvalle, is in Nigerië aktief. 

Die temakunswerk, geskilder deur Amarachi Ottah, beeld drie vroue in ’n sittende posisie uit. Elkeen is geklee in unieke tradisionele klere wat Nigerië se diverse kulture tydens troues, godsdienstige samekomste, geboortes en begrafnisse versinnebeeld. Hulle kom uit verskillende etniese groeperinge waarvan die drie prominente groepe – Yoruba, Igbo en Hausa-Fulani – groot gebiede bewoon, maar hulle is verenig in hul gedeelde daaglikse ervaringe. Hulle werk van vroeg tot laat om hul families te onderhou.

Die skrywers van hierdie tema het gepoog om die universele konsep van menslike lyding uit te lig. Die diepte van ware goddelike rus maak hierdie swaarkry egter draaglik. Dit vind plaas deur die transformasie van God se genade en die ondersteuning van Christengelowiges in ons gemeenskap. Die Nigeriese komitee het hul kulturele wysheid verweef met die universele behoefte aan rus, en hulle herinner ons hoe God ons in ons weerloosheid ontmoet. 

Mag 2026 se tema, Kom, Ek sal jou rus gee, ons in gebed verenig om weer eens in hierdie Lydenstyd te besef dat goddelike rus deur sy kruisdood verseker word. Om God se beheer in ons lewens te aanvaar, bring ware rus – stilte in ons siel – wat spruit uit die wete dat God getrou is.