Wanneer Jesus aan die kruis besig is om te sterf, sien Hy sy moeder in die skare en die dissipel vir wie Hy baie lief was. In sy worsteling, elke sekonde gevul met pyn, is Hy bewus van die hartseer en nood van sy geliefdes wat alleen gaan agterbly met die trauma wat die marteling en kruisiging veroorsaak het. Hulle sou sin daarvan moes maak – sin maak van die verlies. In hierdie pynlike oomblik is Jesus besorg oor sy moeder en hierdie dissipel, en dan hoor ons die woorde: Daar is u seun. Daar is jou moeder.

Hierdie paar woorde openbaar iets van Jesus se diakonale hart – Jesus se omgee vir mense in nood. Nie slegs was Jesus bewus van hul pyn en hartseer nie, maar Hy het iets daaraan gedoen. Die woorde van Jesus was meer as net woorde – dit is eerder ’n oproep tot omgee en liefde, ’n oproep om te versorg en geborgenheid te bied. Terwyl dit donker word op Golgota, word die hart van die evangelie sigbaar wanneer Maria deur die dissipel versorg word en hy haar moederliefde ervaar.

Tydens die 74ste AKV is die besluit geneem dat die diakonaat in die toekoms deel sal vorm van die werksaamhede van die AKV. Waar die diakonaat vir baie jare deur ’n eie sinodale struktuur georden is, is die diakonaat opnuut op ’n nuwe koers geplaas. Die diakonaat in die NHKA is nou in die hart van die evangeliebediening, maar terselfdertyd is dit ook op grondvlak, op gemeentevlak, en elkeen se verantwoordelikheid.

Waar ons op pad is na Goeie Vrydag en Opstandingsondag, is dit belangrik om te besef Jesus se sterwe en opstanding alles verander het. Die wêreld het nuut geword, en so ook die manier waarop ons na dinge moet kyk. Die duisternis kon nie die Lig uitdoof nie, en ons kan deur die Lig en genade van Jesus mekaar raaksien en vir mekaar omgee. Aan die kruis maak Jesus ons opnuut bewus van die nood van mense, hul hartseer en die gevolge van die sondeval wat oorwin word. Die opstanding bring nuwe hoop en nuwe moontlikhede, nuwe perspektiewe en nuwe verantwoordelikhede.

Die Komitee vir Diakonaat se roeping en opdrag is om elkeen te herinner aan die kruiswoorde: Daar is u seun. Daar is jou moeder. Jesus weet van elkeen se nood, en Hy wil elke gelowige, elke lidmaat en elke ampsdraer opnuut oproep en uitstuur om mekaar en ander te versorg. Dit loop uit in die groot opdrag van Matteus 28 om die wêreld in te gaan en dissipels te maak. Oral waar ons kom, het ons elkeen die verantwoordelikheid om die hoop van Jesus uit te dra en uit te leef.

Mag die vrede, genade en troos van Jesus deur ons vloei.