Jesaja 1: 17 (AFR2020)
Handhaaf die reg van die vaderloses! Verdedig die weduwees se regsake (Jes 1: 17)! God spreek deur Jesaja tot ’n volk wat uiterlik godsdienstig voorkom. Hulle bring offers, hou feeste en bid, maar innerlik het hulle harte van Hom afgedwaal. In plaas van liefde en geregtigheid, is daar korrupsie en onreg. God verwerp hul rituele en vra eerder ’n radikale hartverandering. En een van die eerste dinge wat Hy noem, is: laat reg geskied.
In God se oë is ware geloof nie ’n saak van leerstellings en liturgie nie, dis ’n saak van liefde en geregtigheid, veral teenoor dié wat nie vir hulself kan opstaan nie. Die vaderlose, ’n wese sonder beskerming, sonder stem, sonder mag, is vir God belangrik. Hulle is die toets van egte geloof.
Wanneer ons na ons eie konteks kyk, sien ons duisende kinders wat sonder pa’s grootword. Sommige het nooit ’n vader geken nie. Ander is verwaarloos of verwerp. Vir hulle het pa-wees ’n vae, seer betekenis. Jesaja 1:17 sê egter: God self wil hul reg beskerm en dat Hy sy volk roep om dit saam met Hom te doen.
Hierdie opdrag is nie passief nie. Dit vra dat ons aktief leer om goed te doen – dat ons reg nastreef, dat ons optree waar onreg plaasvind, dat ons die stem word vir dié wat nie gehoor word nie. En dit begin nie op regeringsvlak nie – dit begin in jou hart, in jou huis, in jou kerk.
Vir dié wat self ’n lewe sonder ’n pa geken het, is hierdie teks ’n troos én ’n uitdaging. Jy is nie vergete nie. Jou pyn is vir God heilig. Maar jy is ook geroep om self iemand te wees wat geregtigheid bevorder vir ander vaderloses, vir elke weerlose, vir elke seer mens.
Reg begin waar die hart verander word. En as ons regtig God se wil wil doen, moet ons leer om lief te hê soos Hy liefhet – met sy oog op die vaderlose.
Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid