Johannes 20: 26-31
Aanraking is ’n belangrike deel van die lewe. Wanneer ons mekaar groet gee ons ’n handdruk of as dit iemand naby aan ons is, ’n drukkie. Ons sien deesdae hoedat groot en harde sportmanne mekaar omhels. Kinders het ’n behoefte aan ouers se aanraking en geliefdes vind troos in mekaar se aanraking. Aanraking is ’n belangrike en noodsaaklike deel van ons lewe. Daar is iets baie kosbaar in die aanraking van mekaar.
Wanneer Tomas hoor van Jesus se opstanding, is sy eerste reaksie dat hy nie sal glo voordat hy nie self gesien en gevoel het nie. Hy wil aan Jesus raak en fisies ervaar dat Hy opgestaan het. Om te sien is nie genoeg nie. Hy wil voel en met sy hande ervaar dat Jesus in liggaam teenwoordig is. Tomas het dan ook die geleentheid om ’n paar dae later, die Opgestane Christus te sien en aan Hom te vat.
Ons voel met ons hande maar ook met ons harte. Dikwels voel ons harte eensaam en is die verlange na mekaar baie intens, omdat ons nie aan mekaar kan vat nie. Tomas se lewe verander wanneer hy fisies aan Jesus vat en die nabyheid van die Opgestane Christus so ervaar.
Die teenwoordigheid van Opgestane Christus het die gang van die wêreld verander. Die eerste gelowiges het die voorreg gehad om Christus te sien en aan Hom te vat. Ons voel sy teenwoordigheid op ’n ander wyse. Hy gee aan ons ’n vrede en ’n rustigheid wat alle verstand te bowe gaan. In ’n tyd waarin mense soekend na vrede is, vind ons vrede in die alomteenwoordigheid van God. Vrede wat alle verstand te bowe gaan en wat wag hou oor ons harte en gedagtes.
Voel jy alleen of onseker? Voel dit vir jou of die lewe sin en betekenis verloor het? Mag jy die teenwoordigheid van Christus ervaar. Mag jy in jou hart die warmte van sy nabyheid ervaar. In ’n harde en somtyds liefdelose wêreld vind ons rus by Christus.
Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas