Lukas 19: 1-10

Saggeus het nie ’n goeie naam gehad nie en was bekend as ’n sondige man. In die samlewing van daardie tyd was hy van baie dinge uitgesluit. Hy was diep bewus van sy eie onwaardigheid. Hy het egter gehoor dat Jesus ’n vriend van tollenaars en sondaars is. (Mat 11: 19) Hy wou Jesus graag sien toe Hy na Jerigo toe kom. Saggeus was ’n kort mens en kon daarom nie vir Jesus tussen die skare mense sien nie. Hy het  in ’n wildevyeboom geklim sodat hy Jesus kon sien as Hy verbygaan. Toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sê vir hom: Saggeus, kom gou af, want Ek moet vandag in jou huis tuisgaan (Luk 19: 5).

Saggeus het Jesus met blydskap ontvang omdat die Jesus hom waardig geag het om in sy huis tuis te gaan.  Saggeus het sy eie verlorenheid besef en verlossing vir sy sonde by Jesus Christus ontvang. Saggeus en sy gesin is gered Hulle het Jesus aanvaar as die vervuller van die beloftes. Hulle in ingesluit in die koninkryk van God en die verbondsbeloftes is ook waar vir hulle.

Vir Saggeus was dit die begin van ’n nuwe manier van lewe want hy het die Here leer ken. Hy het besluit om sy aardse belange en dit wat hy het, ondergeskik te maak aan sy toewyding aan die Here Jesus. Sy hart het ook oopgegaan vir die armes en sy medemens. Hy het barmhartigheid bewys.

Die ander mense het dit vreemd gevind en hulle ontevredenheid daaroor uitgespreek dat Jesus by ’n sondige man tuis gegaan het. Maar God tree met wysheid op, en sy werke bewys dit (Mat 11: 19b).

Die Here maak steeds bemoeienis met ons elkeen, sodat ons Hom kan ken en die ewige lewe kan hê. Mag ons ook ons lewens aan die Here toewy en dit wat ons het, in sy diens stel.

En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is (Joh 17: 3).

Ds Kotie Mc Donald, Emeritus