Johannes 14: 1

Op Oujaarsaand 1920 was daar ’n geweldige donderstorm op die plaas Krugerskraal waar die bekende Totius en sy gesin gewoon het. ’n Weerligstraal het een van die slaapkamers getref waar hul dogter Wilhelmina en een van haar susters aangetrek het. Wilhelmina is op slag dood. Later dig hy só daaroor: O Die pyn-gedagte: My kind is dood!…/ dit brand soos ’n pyl in my./ Die mense sien daar niks nie van,/ en die Here alleen die weet wat ek ly.

Dié soort gebeure is sekerlik die mees intense vorme van ontsteltenis wat daar kan wees. In Engels is daar verskeie woorde vir ontsteld, onder andere die woord troubled. Dit kom van die oud-Frans troubler wat op sy beurt van die Latyn: om in beroering te bring, afgelei kan word. Hierdie Latynse wortel is verwant aan die woord turbo wat beteken draai of werweling (dwarreling) – dit is die draaibeweging wat tydens die werking van ’n drukverhogende toestel, gewoonlik in motors en ander masjinerie, plaasvind.

Die aand waarin Jesus die paasmaaltyd saam met sy dissipels genuttig het, was Hy sélf ontsteld gewees. Daar staan in Johannes 13:21 dat hy hewig ontsteld geword het toe Hy sy verraaier aangekondig het. Hierdie gebeure asook Jesus se aankondiging dat Hy nog net ’n klein rukkie by hulle gaan wees, het sigbare ontsteltenis by sy dissipels veroorsaak. Hul emosies was daardie aand in-turbo gewees – dwarrelend en in beroering!

Jesus sien hul ontsteltenis raak (Joh 14: 1) en moedig hulle aan om nie ontsteld te wees nie en sy kuur vir ontsteltenis is: Glo in God; glo ook in my. Jesus stel Homself op gelyke vlak met God. Dis nie ’n nederige rabbi wat praat nie – dis die Seun van God wat sê: Jy kan My vertrou, soos jy die Vader vertrou. Hierdie glo beteken om jouself aan God en Jesus toe te vertrou.

Is jy tans (hewig) ontsteld? Laat die dwarreling en beroering in jou binneste jou voel asof jou gemoedswerweling in-turbo is? Jy moenie ontsteld wees nie – glo in God en glo in Jesus!

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege