Levitikus 11: 44-45

God se opdrag aan Israel in Levitikus 11: 44-45 om heilig te wees soos God heilig is, volg ná ’n reeks reinheidswette (Lev 11: 1-43). Hierdie wette help Israel om hulself af te sonder, maar agter die oproep tot heiligheid lê ’n dieper verhaal. God sê: Ek is die Here wat julle uit Egipte gelei het om julle God te wees. Daarom moet julle heilig wees, want Ek is heilig (Lev 11: 45). Hier word God se heiligheid verbind aan die uittog uit Egipte – ’n daad van bevryding, nie straf of vergifnis nie. Israel was nie in slawerny weens sonde of ontrouheid nie. Hulle is onderdruk omdat daar ’n nuwe koning in Egipte aan bewind gekom het wat nie van Josef geweet het nie (Eks 1: 8). Dit was die politieke sisteem van Egipte wat Israel laat swaarkry het. God hoor hul krete, sien hul swaarkry, en red hulle (Eks 2: 23-24) – nie as regter wat sonde straf nie, maar as die Skepper wat lewe wil herstel. Hierdie God, wat alles gemaak het sodat dit kan floreer (Gen 1), tree op omdat ’n florerende lewe van Israel ontneem word. Om dus heilig te wees soos God, beteken om ook só te leef dat ander kan floreer – om lewe, vryheid en volheid vir ander moontlik te maak. Aan die einde moet ons besef God se skepping het meer as genoeg om aan almal se behoefte te voldoen, maar nie aan almal se selfsug nie. Om heilig te wees soos God heilig is, is om so te leef dat almal meer as genoeg het om te floreer en die lewe te geniet. Maar ook terselfdertyd om soos hierdie heilige God op te staan teen ongeregtigheid in die wêreld en nie toe te laat dat ander onderdruk en uitgebuit word nie.

Here, lei ons elke dag dat ons heilig, barmhartig, en liefdevol teenoor ander optree, soos u heilige, barmhartig, en liefdevol teenoor ons optree. Laat ons heilig wees soos u heilig is.

Dr Robert J van Niekerk, Universiteit van Pretoria