Handelinge: 1: 8
Elke jaar hierdie tyd praat ons oor Pinkster. Elke jaar hierdie tyd wonder ons weer oor ons idees van die Gees. En hopelik elke jaar hierdie tyd word ons uitgedaag om dalk nuut te dink oor konsepte wat ons nog altyd aan vasklou wanneer dit by die Heilige Gees kom.
Ons praat steeds oor hoe om in die tyd van die Pinksterfees deur die Gees beweeg te word.
En kom ons wees eerlik – dit is nie altyd maklik nie.
Jy word dalk moeg. Jy het nie die krag om hierdie persoon aan te hou wees nie.
Dit vat baie van jou. Baie van jou tyd, jou geld, jou inspanning, jou kreatiwiteit om te wees wat die Gees in jou hart wakker maak.
Maar een van die wonders van Jesus se koninklike werk en een van die aspekte waarop ons kan staatmaak, is dat ons krag sal ontvang. Jesus beskik oor die vermoë om aan ons die krag te gee waaroor mense net kan droom.
Sal ons moeg word? Dalk ja, maar krag sal ons kry. Die Griekse woord vir krag is: dynamis, bonatuurlike vermoë, potensiaal. Dit laat my dink aan die woord dinamies. Dieselfde woord word gebruik wanneer daar verwys word na die krag wat Jesus uit die dood uit opgewek het.
En dit is vir ons daar deur die Heilige Gees.
Dieselfde krag wat ons sal help om te verander en vernuwe, wat vir ons wedergeboorte en heiligmaking bring.
Dieselfde krag wat ons lei in waarheid en vrede.
Dieselfde krag wat ons uitstuur om met oortuiging liefde te leef.
In die vroeë kerk, soos in Handelinge, is gewone mense met buitengewone krag vervul om die krag te hê om te beweeg.
Gebed
Heilige Gees, vul my vandag met nuwe krag. Maak my ’n getuie van Jesus – nie net met my woorde nie, maar ook met my lewe. Lei my, verander my, en gebruik my tot eer van u Naam. Amen.
Ds Leanie Lemmer, Bellville