Johannes 17: 1-26
…sodat almal een kan wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U… (Joh 17: 21).
In hierdie aangrypende gebed van Jesus – net voor sy arrestasie – vra Hy nie vir mag, oorwinning of selfs beskerming nie. Hy bid vir eenheid. Nie net vir sy dissipels destyds nie, maar vir almal wat deur hulle woorde sou glo – dit sluit dus vir my en jou in.
Dis ’n gebed wat tot vandag toe nog deur die wêreld eggo en gehoor moet word. Jesus se diepste begeerte is dat ons as sy volgelinge in ’n verhouding van liefde en verbondenheid met mekaar én met God sal leef.
Hierdie prentjie van God as Eenheid is gegrond in die geheimenis van die Drie-eenheid – Vader, Seun en Gees wat in ’n goddelike dans van liefde en samehorigheid bestaan. Dit word beskryf as ’n ewige vloei van gee en ontvang, ’n sirkel van genade waarin daar geen afsondering of isolasie is nie. En die wonderlike is ons word genooi om deel te neem aan hierdie goddelike verbondenheid.
Maar in ’n wêreld van verdeeldheid, isolasie en konflik is dit soms moeilik om werklik in hierdie eenheid te leef. Ons trek grense, bou mure, hou wrokke, is haastig om ander te oordeel. Tog is Jesus se gebed duidelik: ware spiritualiteit lei tot versoening, gemeenskap en liefdevolle samehorigheid.
Om God as Eenheid te sien, vra dat ons ook sal leef met eenheid en samehorigheid as fokus. Dat ons verhoudings herstel, kontak maak, luister en vergewe. Nie omdat dit altyd maklik is nie, maar omdat dit die manier is waarop God self leef – en ons nooi om dieselfde te doen.
Praktiese toepassing: Dink vandag aan iemand met wie jy vervreem geraak het – dalk deur misverstand, pyn of tyd. Stuur vir daardie persoon ’n boodskap, bid vir versoening, of neem ’n eerste klein stap terug in die rigting van verbinding.
Gebed
Drie-enige God, trek my in u liefdevolle dans in – sodat ek in liefde en eenheid met ander kan leef. Amen.
Ds Johnny Young, Rustenburg-Tuine