Esegiël 37: 1-14
Esegiël 37 bied aan ons een van die mees dramatiese voorstellings van dit wat ons aangaande die Heilige Gees bely, naamlik: dat die Heilige Gees Heer en Lewendmaker is. Wat geboorte kan gee teen alle waarskynlikheid in. Wat lewe kan gee waar dood heers.
Mens, kan daar in hierdie bene weer lewe kom? (Es 37: 3a). Esegiël het geantwoord: Nee, dit weet net U, Here my God (Es 37: 3b). Ons twyfel of God nuut kan maak. Ons antwoord eerder soos Esegiël: aarselend, onseker, vol twyfel. Miskien oorweldig deur die uitgedroogde doodsbeendere in en rondom ons. Nee, dit weet net U Here my God. Of hier weer lewe kan kom? Moet liewer nie vir my vra nie…
Ons eie spreektaal verraai die twyfel (die doodsheid) waarmee ons na die lewe kyk. Ons sê: Iets het binne in my doodgegaan. Of ons liefde vir mekaar is dood. Of, ek is doodmoeg of doodbang, doodalleen, doodbenoud. As dít ons uitsig op lewe is – vasgevang in situasies van doodsheid – watter geweldige sterk teenspraak is ons belydenis dan nie wat sê: Ons glo in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak! God is by magte om doodsbeendere weer lewend te maak. Dit is die Gees wat lewend maak. Die mens self kan dit nie doen nie (Joh 6: 63).
Hoe maak die Gees lewend? Die Heilige Gees dra, deur die evangelieverkondiging, die heilswerk van die Christus in ons harte in en maak dit tot ons eiendom. Die Gees laat ons deelhê en deelkry aan die Christus en al sy weldade.
As ons na ons geraamtes in ons kas kyk – die doodsbeendere van ons eie sondige bestaan – hoor dan weer God se Woord as troos: God is by magte om die doodsbeendere van en die doodsbeendere in ons bestaan lewend te maak. Trouens, God het dit alreeds gedoen deur Jesus Christus wat lewe gee en dit in oorvloed. Aan beide kante van die graf!
Die Heilige Gees getuig en oortuig my deur die Woord, dat ek aan die gekruisigde en opgestane Here deel het. Daarom glo ek in die Heilige Gees, wat Here is en lewend maak!
Ds André Thomas, Oos-Moot