Lukas 15: 1-10
Op die Sondae en dae nadat ons Sondag Trinitatis gevier het, gee ons aandag aan die Christus se verkondiging. Een van die temas handel oor die ontvangs in die kerk van hulle wat positief reageer op die uitnodiging van die liefdevolle en barmhartige God.
Lukas impliseer dat Jesus hierdie gelykenis rig op die godsdienstige leiers. Hulle direkte beswaar staan in vers 2: Hierdie man ontvang sondaars en eet selfs saam met hulle. Dan vertel Jesus drie gelykenisse.
Tafelgemeenskap en die reëls van ’n ete was baie belangrik. Om aan tafel saam met ander te gaan, het beteken dat jy hulle waardes, oortuigings en sosiale klas aanvaarbaar vind en daarmee assosieer. Jesus het hiérdie reëls van tafelgemeenskap verontagsaam. Hy wil aan die godsdienstige leiers toon dat tafelgemeenskap met sondaars noodsaaklik is en dit word uit die drie gelykenisse (verlore skaap, muntstuk, seun) duidelik.
Aan die einde van die gelykenis kom die skaapwagter met die een verlore skaap terug. Hy is so bly dat hy sy vriende en bure byeenroep. En hierdie wees saam met my bly, want ek het my skaap wat weg was weer gekry, word verstaan as die skaapwagter wat saam met ander aan tafel gaan om fees te vier. In die gelykenis van die verlore muntstuk gebeur dieselfde. Wanneer die vrou die verlore silwer muntstuk vind, is haar vreugde so oorweldigend, dat sy weer aan tafel gaan saam met vriendinne en buurvroue. In die derde gelykenis word die saam feesvier tot ’n hoogtepunt gedryf. Die vader is so bly oor die jongste se terugkoms dat hy ‘n fees uitroep sodat daar saam aan tafel gegaan kan word. Dan die tragiese: Die oudste weier net soos die godsdienstige leiers tafelgemeenskap met sy vader en broer.
Wanneer Christus ons nooi om in deelgemeenskap sy liggaam en bloed te eet en te drink, dan is dit nie as ’n enkel gelowige nie. Die uitnodiging is juis om saam met ander sondaars te kom bly wees aan sy tafel. Hoekom die blydskap? Want, sê die pa van beide seuns: Hierdie broer van jou was dood, en hy lewe weer, hy was verlore, en ons het hom teruggekry.
Ds André Thomas, Oos-Moot