Eksodus 15: 1-21
Wie van die wal af in die sloot beland, bid hoogstens. Maar wie uit die sloot tot op die wal gebring word, sing van blydskap. Op die wal oorkant die Rietsee sing Moses en die Israeliete die pryslied tot eer van God. Hulle sing oor die Reddergod wat uitkoms en verlossing vir sy volk bring en die vyand vernietig het. Wie van die gode is soos U, Here? Wie is soos U, so hoog geëer en heilig? In lofsange word U vereer, Bewerker van wonderdade!
Wie is soos U Here?
Wanneer Job in sy rebellie uitgelei word om God se handewerk te aanskou, gee hy bes en sê: Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer stilbly (Job 39: 37). Wie is soos U Here? Wanneer God aan ’n kinderlose Hanna uitkoms gee, dan verwoord sy Gods grootheid só: Ek jubel in die Here, ek is sterk in die Here. Ek lag my vyande uit, ek is bly oor die uitkoms wat U gegee het. Daar is geen heilige soos die Here nie, buiten U is daar nie een nie, daar is geen rots soos ons God nie (1 Sam 2: 1-2).
Wie is soos ons, Here?
Watter van u skeppingswerke wat U tot stand gebring het, is soos die mens wat na verskeie oorloë en vele ander dade van vernietiging, nie ’n einde kry aan die haat vir ander nie? Wie is soos ons, Here? Ons wat u woorde hoor, maar kies wanneer om dit aan te haal en wanneer om daarna te luister – soos dit ons pas. Wie is soos ek Here? Wat die gevolge van my sonde aanskou; wat die spykermerke en deurboorde sy sien, maar nie ’n duim daardeur beweeg word nie. Wie is soos ek Here? Wat my gebede afsluit met: Ek vra dit nie omdat ek dit verdien nie, maar uit genade, maar nie bereid is om as genade-bedelaar ’n genade-uitdeler van U Naam te word nie.
Wie is soos U Here, wat redding vir sondaarmense op Golgota volbring!
Ds André Thomas, Oos-Moot