Handelinge 2: 1-13

Van die begin van die skepping af ontvang die mens die Gees van God en is die mens gevul met die Gees van God.

Daarom is dit belangrik om te besef dat mense reeds in die Ou Testament die Gees van God ontvang het. So word Josua genoem in Numeri 27: 18. Sommige van die Rigters word genoem onder andere Rigters 14: 6 en ook van die konings, Dawid word in 1 Samuel 16: 13 genoem.

Ons lees vroeg in die evangelies dat nadat Jesus gedoop is, het die Heilige Gees sigbaar op Hom neergekom. So word aan die mense wat dit aanskou het, bevestig dat Jesus die Gees van God ontvang.

In Handelinge 1: 5 en vers 8 sê Jesus aan die dissipels dat ook hulle die Heilige Gees sal ontvang. In Handelinge 2 se eerste verse gebeur dit presies so. Die dissipels ontvang die Heilige Gees.

Dit is opmerklik dat die dissipels nie dieselfde bly nie. Daar kom verandering, verbetering en vernuwing die oomblik wat hulle die Gees van God ontvang.

Vervul met die Heilige Gees is die dissipels toegerus vir die werk wat hulle moet doen. Die groot opdrag om die Blye Boodskap van God aan alle mense te verkondig.

Die Gees van God lei mense en ook ons wat die Gees van God ontvang het om daadwerklik op te tree en die wil van die Here uit te leef.

Dit is ook belangrik om na te dink oor die woorde van vers 13. Daar was steeds mense wat gespot het. Daar was steeds mense wat, alhoewel hulle gesien het, nie geglo het nie. In hierdie wêreld sal daar altyd die wees wat nie glo nie. Deur die werking van die Heilige Gees bly dit voortdurend ons as gelowiges se taak om God se liefde en genade aan elkeen te verkondig en aan hulle te deel.

Gebed

Here dankie dat ook ek u Heilige Gees ontvang het. Dankie dat ek mag leef met die wete dat u Gees in my leef en deur my werk. Amen. 

Ds Michael A Müller, Potchefstroom-Studente