Genesis 1: 1-2; Esegiël 36: 26-27; Matteus 3: 16-17

God se Gees bring lewe, orde en skoonheid. Die Hebreeuse woord vir gees is: ruach. Dieselfde woord beteken wind/asem. Dit dui alles op energie en krag. Soos wat die suurstof wat ons inasem ons liggame aan die lewe hou, so onderhou God se Gees alle lewe.

Die profete het verkondig dat deur die mens se ongeregtigheid daar chaos en gebrokenheid in die wonderlike skepping van God ingekom het. Hulle het gesê dat God sy Gees sal gee om die menslike hart te herskep om hulle die gawe te gee om werklik God en mekaar te kan liefhê en gehoorsaam te kan wees aan God se wil.

Die Heilige Gees kom ten tyde van Jesus se doop en rus op Hom. Hy word toegerus om die nuwe skepping te begin. Ons sien dit waar Hy mense genees en hul sonde vergewe. Hy skep lewe waar daar dood was. Deur die krag van die Gees staan Hy self op uit die dood. Nie lank na sy Hemelvaart nie kom God se Gees oor al Jesus se volgelinge sodat hulle deel kan word van die nuwe skepping en daaraan kan meewerk totdat dit sy volheid in Christus se tweede koms bereik. Die Heilige Gees bewerk in ons deur ons geloof in Jesus die nuwe lewe. Hy help ons om deel te word van die blye boodskap en dit te leef.

Vandag steeds sweef God se Gees oor donker plekke, veral in die menslike hart, en rig Hy mense na Jesus, transformeer en rus Hy hulle kragtig toe om God en mekaar werklik lief te hê. Die kragtigheid van God se Gees in ons hang af van in watter mate ons onsself aan Hom onderwerp.

Gebed

Dankie Here dat u lewegewende, transformerende, skeppende teenwoordigheid as gawe permanent oor ons uitgegiet is. Dankie Here dat u Gees daarin spesialiseer om plekke van chaos en vormloosheid te orden en goedheid en skoonheid daaruit voort te bring. Ook in ons lewens. Amen.

Ds Aniena Jansen van Rensburg, Leeudoringstad