Matteus 21: 33-46; Jesaja 5: 1-7
In die Bybelse tyd het mense verhale vertel, is kennis mondelings oorgelewer en was daar ’n luisterkultuur. Rabbi’s het gereeld stories vertel met ’n oop vraag aan die einde wat die gehoor dan moes beantwoord.
In die gelykenis is die grondbesitter, God. Die klipmuur is sy wil, sy gebooie wat Hy aan sy volk gegee het om hulle te rig en te beskerm. Die wingerd is sy uitverkore volk. Die boere waaraan Hy dit verhuur het, is die leiers van die volk, die konings en die geestelike leiers. Die slawe wat verniel en gedood is, is die profete. Sy seun is natuurlik Jesus Christus.
Hierdie verhaal sou nie vreemd op die ore van die hoorders val nie. Daar sou grondbesitters, wingerdeienaars en boere onder die luisteraars wees. Die metafoor in Jesaja sou ook gedwonge in herinnering geroep moes word.
In Jesaja het God sy wingerd, sy volk, op ’n vrugbare heuwel, Sion, geplant en die wingerd alles gegee wat dit nodig gehad het om te floreer. Die wingerd het egter suur in plaas van soet druiwe gelewer. Israel het ongeregtigheid na vore gebring in plaas van geregtigheid.
Dan neem die gelykenis ’n wending en Jesus praat van die hoeksteen, wat natuurlik ook na Hom verwys. In daardie tyd het die hoeksteen die hele bouwerk van die gebou bepaal. Die leiers van die volk het die Hoeksteen verwerp en wou iets anders bou as wat God wou bou.
Jesus is die hoeksteen van die Koninkryk, die kerk en van ons lewens.
Wil ons in ons lewens tot stand bring wat God in ons lewens en deur ons lewens tot stand wil bring? Is ons ’n wingerd wat vrug dra, waar geregtigheid te vinde is?
Laat elkeen van ons as individue en ons as geloofsgemeenskap saam met God worstel met hierdie vrae en mag die waarheid ons tot groot vrug beweeg.
Ds Aniena Jansen van Rensburg, Leeudoringstad