Handelinge 1: 3-4; 2: 1-4
Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het… (Hand 1: 4b).
Ek dink nie daar is enige een van ons wat sal kan sê dat ons nog nooit bang was nie. Of dit is as gevolg van die vrees wat ontstaan wanneer daar omstandighede in ons lewe plaasvind wat buite ons beheer is of selfs net die onbekende donker stegie wat voor ons lê of die slapelose nag as gevolg van die onsekere gesprek wat moet plaasvind. Ons word almal een of ander tyd met hierdie ongemaklikheid gekonfronteer.
Jesus se dissipels moes iets van hierdie bang wees ervaar het nadat Hy nie meer by hulle was nie. Terwyl Hy by hulle was, kon Hy die antwoorde gee, die siekes genees en die skrifgeleerdes op hul tekortkominge wys. As daar ’n vraag was, was Jesus nie net daar om dit te antwoord nie, maar Hy was self ook die antwoord. Hulle hoef nie bang te gewees het nie, want Jesus is daar. Maar wat begin gebeur wanneer húlle die antwoorde moet begin gee? Wat gebeur wanneer hulle moet wakker bly en bid? Wat gebeur wanneer dit waarvoor hulle voorberei is nou húlle verantwoordelikheid begin word? Matteus en Markus antwoord hierdie vrae deur reguit te stel dat sy dissipels Hom in die steek gelaat en weggehardloop het.
Jesus se antwoord aan Petrus nadat hy die slaaf van die hoëpriester se oor afgekap het, help ons om te verstaan dat hoe donker of angswekkend elke oomblik wat Hy moes deurmaak ook al was, het alles binne die raamwerk van God se plan verloop. Geen mens se angs of bravade kon ’n streep hierdeur trek nie. Jesus se reaksie op die gebeure word beantwoord met die vraag: Moet ek dan nie die lydensbeker drink wat die Vader My gegee het nie?
Kan jy jou indink hoe Jesus se dissipels en volgelinge gevoel het toe die werklikheid van dit wat met Jesus gebeur by hulle begin insink? Kan jy jou Maria se angs indink wanneer Hy veroordeel word en sy Hom verslae volg op die weg na Golgota toe? Kan jy die angs, die bang ook beleef?
Ondanks al hierdie dinge is daar genade wat deurbreek wanneer Jesus sy volgelinge herinner om te wag op die gawe wat die Vader belowe het. Te midde van die vrae, die vrese en die onsekerheid was daar vir hulle en ook vandag vir ons ’n belofte wat uitloop op vervulling en wat ons weer verseker dat Hy ons nog nooit gelos het nie.
Ds Jaco Vogel, Rooihuiskraal