Matteus 23: 23-39
Die Fariseërs het gedink hulle is goeie gelowiges. Jesus beskryf dan op ’n paar treffende maniere hoe hulle die punt heeltemal gemis het. Hulle wou die wet van God nakom, maar selektief. Jesus begin deur te sê dat hulle die muggie uit hul beker wou haal, maar dan op die ou end die kameel insluk. Die muggie wat ’n klein onrein gogga was, wat hulle onrein sou maak as hulle dit drink, maar dan sluk hulle ’n kameel in wat ’n massiewe onrein dier was om te eet.
Jesus sê dat hulle so op die fynste details fokus, dat hulle die belangrike dinge mis. Hulle het so gefokus op hul eie reinheid en moraliteit, dat hulle vergeet het dat geloof nie net ’n individuele pad is nie. ’n Deel van geloof gaan oor hoe jy as ’n enkele persoon God dien, maar die groter deel gaan oor jou verhouding met God en jou naaste. Om dit anders te stel, geloof is nie ’n enkel sport nie, maar ’n spansport. As dit net oor myself gaan, dan is dit maklik. Dit raak moeiliker wanneer ons ander mense as God se kinders moet behandel. Veral as ons nie met hulle saamstem of nie van hulle hou nie. Dit dreineer jou emosionele energie om minder bevoorregtes te help, vriendelik te wees en om te gee. Tog sien ons regdeur die Bybel hoe verhoudings nog altyd vir God uiters belangrik is. Deur goeie verhoudings met ons medemens te handhaaf, verkondig ons nie net God se liefde nie, maar groei ons in werklikheid ook nader aan God.
Jesus herinner die Fariseërs dat dit nie help dat jy net die uiterlike aspekte van die wet nakom, maar binne jou het jy geen begeerte om God te dien nie. Die gevaar van ’n geloof waar dit net oor myself en die uiterlike gaan, is dat jy soos ’n beker is wat mooi skoon aan die buitekant is, maar vuil in die binnekant.
Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp