Eksodus 2: 23 tot 3: 17

Moses het mos uit Egipte gevlug nadat hy ’n Egiptenaar doodgemaak het. Hy het vir ’n lang tyd in die woestyn gaan leef in die land Median. Daar het hy sy vrou ontmoet en met haar getrou en kinders gehad. Hy het weggekom uit die besige Egipte wat net heeltyd gebou, gebreek en slawe gedryf het. Hy het ingeskakel by ’n groepie mense wat met hul skape rondgetrek het op soek na weiding. Sy lewe het drasties rustiger geword. Dit is toe dat hy eendag terwyl hy skape opgepas het, so by ’n bos verbyloop wat besig was om te brand. ’n Enkele bos wat brand.

Moses het gesien hier is iets vreemd aan die gang, maar hy moes vir ’n hele paar minute eers daar gestaan en kyk het voordat hy kon agterkom dat hierdie bos of boom nie gaan uitbrand nie. Dat dit nie net ’n vreemde verskynsel is nie, maar ’n wonderwerk! Moses het stil geword en tyd gemaak om te kyk en wag. Dalk is dit een van die redes hoekom die Here juis vir hom gekies het om vir Israel te lei – omdat Moses tyd gemaak het om die wonderwerk in die alledaagse lewe raak te sien. God was mos al van Moses se geboorte af in sy lewe betrokke, maar noudat Moses stil geword het, kon hy dit begin raaksien en het die Here met hom begin praat.

As ons mooi gaan kyk en begin tyd maak om te luister, dan sal ons ook makliker die wonders van God in die alledaagse kan raaksien. Wanneer ons dan mooi kyk na ons teksgedeelte, sien ons dat die verhaal nie by Moses begin nie, maar by God. God het eerste tyd gemaak om te luister na die Israeliete wat na Hom roep in hul nood. Ons leer by die Here hoe om tyd te maak vir Hom en vir ander. Mag ons dit deel van ons leefwyse maak om stil te word om te luister na God se roepstem in die alledaagse.

Ds Waldo Pretorius, Ventersdorp