Handelinge 2: 1-13
Ons is tans in die Pinkstertyd! Die woord pinkster is afgelei van die Griekse woord pentekoste wat letterlik vyftigste dag beteken.
Pinkster word sedert die 3de eeu as ’n Christelike fees gevier en is gegrond op die Joodse tradisie van die Wekefees (Hebreeus: Sjavuot), wat vyftig dae na die Pasgafees (Hebreeus: Pesach) gevier word. Sjavuot beteken letterlik weke en verwys na die sewe weke na die Pesach-fees, wat op die vyftigste dag voltooi is. Pinkstersondag vind vyftig dae na die opstanding van Jesus Christus plaas of dan tien dae na sy hemelvaart.
Ons lees in Handelinge 2 dat die Gees op die dissipels tydens Pinksterfees gekom het. Die mense het die geluid van ’n stormwind gehoor en gesien hoe tonge soos vuur op die gelowiges gekom het. Die dissipels wat aan die treur was oor Jesus se weggaan, is op daardie dag vervul met blydskap en het dadelik begin om die nuus van Jesus se opstanding in die wêreld in te dra. Na aanleiding van Petrus se preek op daardie dag is ’n groot oes vir die koninkryk ingesamel. Omtrent 300 mense is op daardie dag gedoop.
Waar mense die Gees van God ontvang, kom daar ’n verandering van hart wat uitspeel in ’n verandering in lewe. Wanneer ’n mens die Gees van God ontvang hoef dit nie altyd ’n ekstatiese, betowerende, oorweldigende gebeurtenis te wees nie. Wat Pinkster egter wel sê, is dat die resultaat van die ontvangs van die Gees in die mens se lewe oorweldigende en ongelooflike resultate behoort te hê soos dit in die lewens van die dissipels gehad het.
Die Pinkstertyd is daarom tradisioneel ’n tyd van geestelike vernuwing. ’n Tyd van suiwering, ’n tyd vir selfrefleksie, ’n tyd van soeke na die Heilige Gees.
’n Uittreksel uit ’n gedig van Ruben Venter lees:
Soos tonge van vuur het Sy Gees van bo
op sy dissipels gedaal sodat ander ook kan glo.
Die ou mens, klipharde hard en selfsugtig gesentreer
Het gesterf en dra nou heilsaam vrug tot Sy eer
Mag jy God in hierdie Pinkstertyd 2026 soek en ontmoet.
Ds Lydia Miller, Villiers