Efesiërs 4: 1-16
In Paulus se brief aan die Efesiërs herinner hy ons daaraan dat ons lewenswandel met die roeping wat ons van God ontvang het in oorstemming moet wees. Ons moet lewe met integriteit. Geloof is nie net iets wat in jou hart gebeur nie. Geloof gebeur ook daar waar jy met ander omgaan.
Paulus sê vir ons in vers 3: Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.
Hierdie eenheid waarvan hy praat is dus nie iets wat ons vir onsself geskep het nie, dit is eerder ’n geskenk wat ons van God af ontvang het. Die Gees het elkeen van ons in Christus aan mekaar verbind. Maar dit is ook hier waar ons verantwoordelikheid lê. Elkeen van ons het die verantwoordelikheid om hierdie eenheid, die geskenk van God, te bewaar en dit te versorg.
Hoe doen ons dit? Ons doen dit deur nederigheid, vriendelikheid, geduld, en liefde. God roep jou om deel te wees van sy groter liggaam. Hierdie liggaam kan egter net waarlik gesond wees as elkeen van ons geestelik groei, diensbaar leef, en in liefde met ander omgaan.
Baie keer verwar ons ware eenheid in Christus met die feit dat ons net aan dieselfde kerk moet behoort. Maar dit is veel meer as dit. Om werklik saam te groei in geloof te groei en om werklik hierdie eenheid uit te leef, is om saam te leer, om saam die Here te loof en te prys, en om saam in die waarheid en liefde te leef. ’n Geloofsgemeenskap kan nie groei sonder gelowiges wat geestelik groei nie.
Geloofsgroei begin by jou, maar God se plan is dat dit altyd uitkring na die mense rondom jou. So word die liggaam van Christus opgebou in liefde.
Vra jouself vandag: Bewaar ek die eenheid wat God as geskenk gegee het deur om met integriteit te leef? Groei ek self in Christus, en help ek ander om saam te groei?
Ds Drian Cockeran, Bronkhorstspruit