Galasiërs 6: 1-5

In die brief Galasiërs word daar baie gepraat van hoe iemand se lewe lyk wat onder beheer van die heilige Gees lewe. Dit is juis hier in hoofstuk 6: 1-5 waar ons nog ’n voorbeeld daarvan kry.

Baie keer verwar ons liefde vir mekaar met die idee dat alles nou maar net reg is, almal kan doen wat hulle wil want ons moet lief wees vir mekaar. Dit is egter nie die geval nie. Daar gaan dae wees waar jy agterkom dat persone vir wie jy lief is verkeerde dinge doen of sê. Dit is juis hier waar die liefde moet inskop om daardie persoon reg te help.

Die doel is egter nooit om mekaar af te breek of om iemand te minag nie, maar om altyd mekaar weer op te help. Paulus verduidelik dat iemand wat die Heilige Gees in sy/haar hart het eerder iemand wat sukkel sal reghelp met ’n gees van sagmoedigheid. Dit beteken dan nie dat ons so iemand moet reghelp uit ’n plek van meerderwaardigheid of omdat ons dink dat ons van beter weet nie. Ons dra mekaar se laste, ons trap nie op mense wat struikel nie.

Om iemand reg te help beteken:

Dat ek onthou dat ek self ook swak is.

Dat ek dit doen in afhanklikheid van die Here se genade.

In geloofsgemeenskappe kan liefde nooit passief wees nie. Liefde stap die pad saam, liefde tel mekaar op en dra mekaar, liefde troos, en liefde wys die pad terug na Jesus toe. Altyd sag en eerlik. Help mekaar reg maar onthou altyd: sonder liefde is alle reghelp niks werd nie.

Gesang 530: 1

Praat ek mense, eng’letale, maar dis nie uit liefde nie,

Is my woorde hol simbole klanke sonder melodie.

Al kan ek geheime uitlê, berge deur geloof versit,

Of al het ek al die kennis – sonder liefde is ek niks.

Ds Drian Cockeran, Bronkhorstspruit