Jakobus 1: 19-27
Hulle sê dat wanneer jy in ’n spieël kyk, sien jy jouself nooit soos wat ander mense jou sien nie. Jy sien nie wie jy werklik is nie. Party van ons se oë bedrieg ons. Soms kyk ons verby al die letsels, ander kere sien ons nou weer net die foute raak.
Jakobus vertel vir ons dat God se Woord ’n ander soort spieël is. Die Woord van God wys nie net presies wie jy is nie, maar dit wys jou ook presies wie jy in Jesus Christus kan wees. Wanneer ons na ons lewens in die lig van God se Woord sien, gebeur daar iets spesiaal. Jy sien jou eie gebrokenheid en afhanklikheid raak. Jy ontdek die gesig van Jesus, vol liefde en vryheid. Jy sien nie net sonde nie, maar ook ’n moontlikheid om nuut gemaak te kan word.
In Jakobus se brief sien ons dat hy ons waarsku om nie net die Woord van God te hoor nie, maar om dit te doen ook. Anders is ons net soos iemand wat homself bedrieg, soos iemand wat vinnig in die spieël kyk en dan dadelik weer vergeet wat hy/sy gesien het. Jakobus verduidelik dat ware geloof nie net beteken dat ons luister nie, maar dat ons die herskeppende krag van die Woord toelaat om ons lewens aan te raak.
Wanneer God se Woord jou lewe aanraak dan gebeur die volgende:
Dit raak jou ore aan om die nood in jou gemeenskap te kan hoor.
Dit raak jou hande aan om aksie te neem teen hierdie nood.
Dit raak jou hart aan om rein te bly in die wêreld.
God se Woord is nie ’n spieël waarteen ons vaskyk om soos gevangenes van ons eie sonde te voel nie; dit bring vir ons hoop van ’n vryheid wat die wêreld nie ken nie. As ons daarin bly, vind ons vreugde in wat ons doen. As ons aan God se Woord vashou dan kan elkeen van ons nuwe lewe en hoop na ons geloofsgemeenskappe bring deur God se Woord om te sit in mense woorde en in dade wat ander opbou en vertroos.
Ds Drian Cockeran, Bronkhorstspruit