Efesiërs 1: 1-14
Ons gebruik maklik die woorde gemeenskap van gelowiges. Waarna verwys dit? Wat is dit? Wie kan daaraan behoort? Watter kenmerke moet so ’n gemeenskap vertoon of uitleef? Watter tipe lewenswyse en optredes moet sigbaar wees? Ons gaan die week, elke dag saam wandel in die Efesiërs-brief. Vorm jou antwoord in jou gedagtes solank wat ’n gemeenskap van gelowiges is.
’n Katkisasie-antwoord op dié vraag is eenvoudig: dit is die kerk. En die kerk bestaan uit mense en ons noem hulle die lidmate. Sondae kom die gemeenskap van gelowiges saam by die kerk in die erediens byeen. Het die mense die gemeenskap van gelowiges begin? Nee, glad nie. Waar is die oorsprong van die gemeenskap? Paulus sê in ons teksgedeelte dat God die Vader begin het om aan ons, sondige mense, seëninge te gee. Hy het ons uitgekies en bestem om sy kinders te word, as ons sy seëninge in ons lewens begin raaksien. Dus het Hy met my en jou bemoeienis gemaak en ons uitgekies.
Na die uitkies, deel God nog meer seëninge aan ons uit deur sy Seun Jesus. En wat is die ander seëninge wat sy Seun vir ons bring? Seëninge van verlossing en vergewing van ons verkeerdhede. Daarom hoor ons vandag mooi: Jy is gered. En uiteindelik as ons die redding verstaan en ons eie wil maak, bring die Heilige Gees ons tot ware geloof. En daardie geloof groei in ons deur God se Woord te hoor en dit te gehoorsaam. En deur die hoor en verstaan, het ons die wens om iewers te wil behoort. En die plek om te behoort, is die gemeenskap van gelowiges. Daarom moet ons hoor: Jy het ’n plek by God.
En die Gees lei ons om dan deel van die gemeenskap van gelowiges te word. En in en deur die gemeenskap leer ons verder van God se ander beloftes ook. En uiteindelik wil ons God daagliks loof, maar ook saam met die gemeenskap die Here dien en sy kinders wees.
Wat maak jy met die plek wat God vir jou by Hom gee? Dink bietjie na oor die plek wat God aan jou by Hom elke dag gee. Benut jy dit? Lees ons teks weer. Onthou dat God ons gekies het om heilig en onberispelik en in liefde voor Hom te lewe. Wat beteken dit? Straal my lewe elke dag iets van wie God is uit? Poog ek elke dag om reg te doen en ’n verskil in sy gemeenskap van gelowiges te maak? In alles wat ek doen, is ek bewus ek lewe voor God en in sy teenwoordigheid.
Ds Peet Esterhuizen, Emeritus