Efesiërs 2: 1-10
Dit is vir God belangrik dat jy iewers saam met ander mense deel sal wees van so ’n gemeenskap van gelowiges. Jy moet behoort, want jy is uitgekies en by God het jy ’n spesiale plek. Want die sonde probeer alle verhoudinge in die mens se lewe tot ’n einde bring. Dit laat ons, ons skeppingsdoel heeltemal mis. Want ons doel is om God te eer deur ons lewe.
Daarom dat vers 1 sê die sonde maak ons dood. Dit veroorsaak dat ons ophou om te lewe. Veroorsaak dat ons verlore raak vir God. Daarom sê Paulus baie duidelik in ons teksgedeelte hoe die mense van Efese gelewe het. En hy wil ons waarsku teen so ’n lewenswyse. Hulle was so vasgevang in die begeertes van hul daaglikse sondige lewe. Hulle het net elke dag vir daardie verkeerde dinge geleef. Baie sensitief wys hy hulle wat hulle omstandighede was en hoe God hulle nader getrek het en hulle lewens verander het. Hulle het nou die pad van gehoorsaamheid na God gevind en moet dit nou begin loop en moet ook daarin vasstaan. Niks of niemand, hoe aantreklik ook, moet hulle van hulle nuwe geloofskoers af wegruk nie. Elke oomblik, sou daar sondige gedagtes opkom, moet daarmee dadelik gebreek word.
Só moet ons ook voor God as individu en geloofsgemeenskap lewe. Daarom dat sy Seun gekom het om ons te red en saam te bind in ’n eenheid. Dat God aan ons saam met Christus ’n plek gee waar ons in sy teenwoordigheid kan lewe. Daarom bly die gemeenskap van gelowiges God se meesterplan, geskep in Christus om ons te help om ’n sinvolle lewe te kan leef. Daarom is een van God se seëninge vir ons, ons plek by Hom. Daarom leer ons teksgedeelte ons, alle mense het by God ’n plek. Is jou plek gevul by God en in sy gemeenskap? Waar jy kan aanbid, werk en dien. God skep daarom vir ons, die kerk, ’n plek waar ons nuut kan lewe. Die krapmerke van die verkeerde lewe, moet daar gesond gemaak word. Ons leer dat ons, ons lewe aan goeie dade moet wy. Word getuie van die nuwe lewe wat moontlik is deur God wat vir ons ’n plek geskep het om te groei.
Daar in die gemeenskap van gelowiges is jou plek. Ons kan nou die goeie werke wat God vir ons beplan, gaan doen. Want jy het ’n plek by God en in sy kudde. Begin elke dag die goeie doen, leef die vrug van die Gees uit in jou geloofsgemeenskap maar ook in die wêreld. Kom dink nou bietjie, aan geleenthede wat God vir jou skep om goeie werke te doen. Begin vandag daarmee. Ons is geskep vir die goeie werke wat God deur ons wil doen.
Wat doen jy vir die gemeenskap van gelowiges?
Ds Peet Esterhuizen, Emeritus