Efesiërs 2: 11-18
Kom, dink vandag by die lees van die teks en die boodskap daaruit bietjie daaroor: Wat is die waarde van my lewe vanuit God se perspektief? Hoekom het Hy my uitgekies? Wat moet ek doen? Hoe doen ek dit?
Die koms van Jesus na die wêreld was om God se uitverkore volk, die Jode, toe te rus om sy kinders te wees en sy koninkryk uit te brei. Maar wat toe nie altyd gebeur het nie, as gevolg van verskeie optredes en besluite van sy volk, is God se wens verongeluk. So dat God baie kere hard met hulle moes praat en selfs hard gestraf het.
En uiteindelik kom God by die besluit dat Hy graag sy verlossing en seëninge met alle mense, selfs die heidene, wou deel. Die Jode het die heidene verag en op hulle neergesien. Dit het haat teenoor die Jode na vore gebring. Die twee wêrelde, naamlik hulle wat ver was (die heidene) en hulle wat naby was (die Jode) moes versoen word. By God was alle mense welkom. Hy het gehoop dat sy volk daardie wens sou gehoorsaam en saam met alle mense opreg saam lewe en ander mense vir God wen. Maar dit het nie gebeur nie.
Dan deur sy seun, Jesus, bring God die boodskap en wyse van versoening vir sy volk en die heidene. Jesus bring God se wens deur sy woorde, sy rigtinggewende boodskappe vir jou lewe en die insluiting van alle mense. Hy bring vrede deur sy lewenswyse. Bring ook vrede deur sy boodskappers wat Hy uitkies en uitstuur. Twee wêrelde word nou een, die wat ver was en die wat naby is. ’n Nuwe gemeenskap kom tot stand. God breek die skeidsmuur af tussen Jood en nie-Jood.
So kom God se reddingsplan in vervulling. Jesus skep ’n nuwe gemeenskap van insluiting van almal wat by God wil wees. So het Hy die vyandskap vernietig, want as jy kind van God is, moet alles verdwyn wat mense van mekaar skei. Jesus bring vrede tussen voormalige vyande, Jode en nie-Jode. So kry almal vrye toegang tot die Vader deur die een Gees. Almal kan in ’n verhouding met God staan en weerstand bied teen die wat die Koninkryk wil afbreek. Wat maak jy met jou vrye toegang tot God? Wat maak jy met jou opdrag om boodskapper van God se vrede te wees?
Gesels bietjie aan die etenstafel oor wat ons prakties kan doen om mense hoop te gee. Verder, hoe kan my lewe Jesus se vredesboodskap demonstreer? Wat is of was my bydrae dalk in die verlede of dalk nou nog steeds dat mense ver van die vredesboodskap af leef? Maak ek ’n verskil deur my lewe dat alle mense by God welkom is en voel? Versprei jou lewe die boodskap dat almal by God welkom is?
Ds Peet Esterhuizen, Emeritus