Efesiërs 2: 19-22
Wat het ons die afgelope drie dae gehoor? Ons het los en weg van God begin lewe. Ons is so ingesluk deur die sleurgang van die lewe dat ons, ons skeppingsdoel vernietig het. Ons het deur ons verkeerde lewe vyand van God geword. Maar dan bring God deur Jesus vrede.
God wil deur Jesus die twee wêrelde verenig, hulle wat ver van Hom was (die heidene) en hulle wat naby Hom was (die Jode). En in die saambring word ’n nuwe gemeenskap gevorm wat God se werke moet versprei. En die nuwe geloofsgemeenskap wil God as sy kerk op aarde gebruik om Hom sigbaar in alle mense se lewens te maak. En die geloofsgemeenskap wat ons kerk noem, het ’n groot verantwoordelikheid en taak. God se vrede moet deur daardie gemeenskap se optrede en omgee sigbaar in alle mense se lewens gemaak word. Daarom dat Paulus daardie gemeenskap met vyf beskrywings vir ons uitbeeld. En daardie kenmerke moet elke mens se lewe mee beskrywe word asook die kerk van Jesus se lewe.
En nou kom ons vandag by die eerste twee beelde wat sê hoe die gemeenskap van gelowiges moet lyk en moet wees. Die gemeenskap se status het Jesus kom verander. Die eerste twee beelde is nou dat die gelowiges, burgers en ’n huisgesin vir God moet wees. Hierdie gelowiges was eers voor hulle uitverkiesing as bywoners beskou. En ’n bywoner in die Bybelse tyd is eintlik soos vreemdelinge, besoekers sonder enige regte hanteer. Hulle was eintlik mense sonder enige regte. Nou hoor hulle, hulle eerste reg is om ’n burger vir God te wees. Wat beteken dit dat ek en jy burgers vir God is? Ons het toegang tot God, ons deel in God se seëninge, God bied ons Sy beskerming en ons kan vrylik met Hom praat.
En dan word die gemeenskap nog intiemer omskrywe deur die tweede beeld van ons is ’n huisgesin vir God. ’n Huisgesin bestaan uit verskeie lede, wat bymekaar hoort en saam deel in alles wat die lewe bied. As huisgesin van God het ons ’n Vader, ons moet onderling na mekaar omsien. Ons moet die Vaderliefde wat ons ontvang met mekaar deel en verder versprei. Ons is vir mekaar se geestelike groei verantwoordelik. Is die kerk, wat ek en jy is, vandag vir mekaar ’n huisgesin in die ware sin van die Woord? Leef ek my burgerskap van God in my lewe teenoor ander mense verantwoordelik uit? Volvoer ek en jy ons opdragte as gesinslid van God se huisgesin elke dag? Ervaar jy in jou gemeente die intieme verhouding van ’n geestelike huisgesin? Ervaar jy ware burgerskap en lid wees van ’n gesin in jou persoonlike lewe en by die gemeente waaraan jy behoort?
Ds Peet Esterhuizen, Emeritus