Efesiërs 2: 19-22

Vandag kyk ons na die laaste drie pragtige beelde wat my geestelike lewe mee beskrywe word. Gister het ons al beleef die verskillende beelde wat die gemeenskap van gelowiges mee beskrywe word, van jy het burgerskap, regte wat uitgeleef moet word. En burgerskap wat verantwoordelikheid meebring. En my geestelike huisgesin waarbinne ek mag lewe, was die tweede beeld.

Vandag se drie beelde kom uit die boubedryf maar word baie geestelik bedoel. Die drie beskrywings van my lewe en die lewe van die geloofsgemeenskap handel oor dat ons lewe ’n tempel, ’n gebou en ’n geestelike huis moet word en wees. In die begin van die week het ons gehoor hoe God ons uitkies, aan ons sy seëninge gee en alle mense sy kinders wil maak. Hy soek ’n plek waar Hy kan kom woon en dis in en deur ons lewe. En daardie lewe moet sekere eienskappe vertoon. Sy teenwoordigheid moet sigbaar word vir die hele wêreld. Vir die Jode was God se woonplek die tempel, deur die eeue. Dink maar in Salamo se tyd toe die tempel twee keer herbou is om God se teenwoordigheid te vergestalt. Vir die Jode was dit ’n fisiese struktuur, waar God se teenwoordigheid ervaar is. Die Here het lank daar gewoon.

Nou kom Jesus en Hy sê jy en ek is God se tempel. Wat beteken dit? Ons vergader dan nog as gemeente in ’n fisiese kerkgebou. Ja, maar dis nie die kerk nie. Dis ons plek waar die gemeenskap van gelowiges bymekaar kom. Paulus se vyf beskrywings is geestelik bedoel. Ek en jy is die kerk. Die Here bou deur ons en ander mense se lewens aan sy geestelike gebou dwarsoor die hele aarde elke dag. Mense word toegevoeg deur doop, belydenis van geloof en bekerings en word geestelike stene in die gebou.

Ons is God se instrumente om die boodskap van die apostels en profete oor te vertel. Ons hoeksteen is Jesus. En ons lewe moet ooreenstem met die Hoeksteen se lewe en ons optrede moet in lyn wees en in pas. As dit gebeur groei hierdie geestelike gebou op die hoeksteen Jesus en word ons eie geestelike lewe vir God ’n gebou. So groei elke mens in sy geloof en saam word ons ’n gemeenskap van gelowiges.

God se tempel is nou onder ons. Dink bietjie na oor hoe jy ’n geestelike huis vir die Here en sy kinders tans is? Verrys jou geestelike huis dat dit sterk gebou is op geloof of staan die bouwerk in jou lewe stil? Kan jy vandag eerlik sê my lewe is ’n tempel, ’n gebou en ’n geestelike blyplek vir God en die Heilige Gees? Hoe sigbaar is God in jou lewe. Hoe sigbaar is God in ons kerk en gemeentes?

Ds Peet Esterhuizen, Emeritus