Efesiërs 3: 1-13

Nie net dominees kan die Woord verkondig en die goeie nuus oorvertel nie. Elke mens, selfs jy ook, is daarvoor bestem.

Paulus begin om in vandag se teksgedeelte te sê alle mense kan deel van God se volk word. Hy bemoedig die gelowiges uit die heidendom aan as hy sê ek bid vir julle wat nie Jode is nie. Hy wil hulle verder bemoedig dat hulle nie na ander valse menslike boodskappe moet luister nie, maar na wat God deur hom, Paulus, en ander gelowiges sê. Hy sit in die tronk omdat hy ’n Griek met die naam Trofimus saam met hom tempel toe gevat het om God se boodskap daar te hoor. Maar volgens die Joodse wette van daardie tyd het Paulus die tempel deur die saambring van die Griek ontheilig. En as gevolg van daardie optrede sit hy nou in die tronk. Ons moet God se hand in die gebeure sien.

God wil hê dat alle mense in ’n verhouding met Hom moet kom. Menslike wette en voorkeure mag mense nie toegang tot God en sy koninkryk weier nie. Daarom hoor ons al van die begin van die brief hoe God hulle seën met sy gawes van uitverkiesing en verlossing selfs vir hulle wat ver van Hom gestaan het. Hulle wat hul lewe aan Hom wil kom wy, skep Hy vir hulle ’n plekkie by Hom saam met elke ander mens op aarde. Hy breek alle skeidsmure tussen mense af deur sy Seun Jesus.

En Hy vestig ’n nuwe gemeenskap uit alle volke, tale en nasies as sy kerk op aarde. Sy kerk is nie in geboue vasgevang nie maar in mense se lewens. En Hy gebruik die mense om sy geestelike huis op aarde te laat verrys. En die suurdeeg vir daardie groei is die evangelie van genade wat uit elke mond van sy kinders gehoor moet word. Die Jode het geglo dat net hulle God se volk kan wees en dat heidene verlore sal gaan.

Maar die draaipunt van die groot geheim kom wanneer God aan Paulus die geheim openbaar. Dat na Jesus se dood en opstanding God se plan nog duideliker na vore sal kom. Die evangelie se verspreiding, is God se plan. Daarom sê Paulus hoe bevoorreg hy is, om die geheim te kan verkondig. Hy onthou nog sy vervolging van Christus se kerk en dat hy nou na sy bekering die goeie nuus mag bring. Elke mens kan met vrymoedigheid en vol vertroue na God gaan. Jy kan moed hou ondanks alles wat oor jou lewenspad kom.

Deel jou persoonlike ervaringe van God met mense, word ’n ware getuie en help om nuwe stene in God se geestelike huis in te bou. Het jy ’n passie om die goeie nuus te vertel? Hoop nie dat ander se deel word van die Kerk van Christus vir jou minder belangrik is nie. Moenie die goeie nuus vir jou alleen hou nie. Wat doen jy om die Goeie nuus te versprei? Dink bietjie daaroor na.

Ds Peet Esterhuizen, Emeritus