Efesiërs 6: 14-17
Gister se nadenke oor hoe ons eie lewe en ons gemeente se lewe moet lyk, het die vraag by ons gelaat of ons passievol is oor die verkondiging en oorvertel van ons redding vir ander mense. Maar die oorvertel word baie kere deur faktore in ons beheer en buite ons beheer beïnvloed.
Paulus het dit ervaar dat daar ’n vyand is, wat ons getuienis en oorvertel in die wiele wil ry. En die vyand is listig en doelgerig om dit te doen. En sy teikenveld is die gemeenskap van gelowiges, daar waar ons lewe. Daarom vind Paulus dit noodsaaklik om ons te waarsku om die regte geestelike wapens deel van ons daaglikse lewenstoerusting te maak. Aan watter geestelike wapenrusting dink hy? Paulus was tydens sy gevangenskap aan ’n Romeinse soldaat vasgeketting. En hy het daardie soldaat se wapenuitrusting deeglik bestudeer. Daarom beskrywe hy aan die hand van daardie wapenstukke vir ons, ons geestelike wapens wat nodig is.
Hierdie soldaat se wapenstukke wat hy gesien het, was almal wapens vir verdediging, daar was net een wapenstuk, sy swaard wat vir aanval op die vyand was. Daarom begin Paulus aan die hand van die onderskeie wapenstukke van die Romeinse soldaat, om ons geestelike wapens aan ons te verduidelik. Paulus verduidelik daar is ses wapenstukke. Dit is ’n gordel, die borsharnas, sy skoene, sy skild, die helm en die laaste een, die swaard.
Wat beteken die wapens vir ons geestelike lewe? Het jy die gordel van waarheid dat jou woorde en optrede spreek van eerbaarheid, betroubaarheid en integriteit? Maak jy jou lewe vas aan die waarheid van God se Woord? Die borsharnas het al die lewegewende organe van die soldaat beskerm. Die bose wêreld soek dat jou lewe deur die verkeerde vernietig moet word. Die verkeerde word altyd as aantreklik voorgehou. Hoe opreg lewe jy voor God? Hoe hanteer jy versoekings wat oor jou pad kom? Hoe sterk staan jy teen aanslae. Derdens, trek jy jou geloofskoene aan om die evangelie deur elke geleentheid uit te dra? Hoeveel tyd maak jy om die goeie nuus, jou eie te maak deur Bybelstudie en gebed en dan verder te deel met ander? Met geloof as skild kan jy en die geloofsgemeenskap ongehinderd kerk wees, al skiet die wêreld pyle van ongeloof op ons af. Ons ken die waarheid en bly daarby. Verlossing is die grootste geskenk wat ons elke dag as helm kan saamneem. My swaard is my geloof in God se Woord en my vertroue in die God van die Woord. Nie om stukkend te sny of te dood nie. Maar om genesing te bring. Om te troos en versorg. Om hulp te verleen en by God nog ’n mens se lewe uit te bring.
Met die wapens sal ons soos kinders van God kan lewe ondanks die verkeerde wat ons wil vernietig. Hoe lyk die kerk se wapenuitrusting vandag? Waarmee hou die kerk haar besig? En jou eie lewe?
Ds Peet Esterhuizen, Emeritus