As ’n gelowige eerlik kyk na volharding…

Openbaring 2: 8-11

Onder die sewe gemeentes wat in Openbaring aangespreek word, is daar net twee wat geen vermaning van Christus ontvang nie. Smirna is een van hulle. Hierdie gemeente het geleef in ’n stad waar die druk om aan die keiser trou te sweer en hom goddelike eer te bewys, deel van die alledaagse werklikheid was. Smirna was ’n sentrum van keiseraanbidding en rykdom. Gelowiges is daar gemarginaliseer, verwerp en vervolg – hul geloof het inderdaad ’n prys gehad.

Juis daarom is die woorde wat Jesus aan hierdie gemeente rig só opreg en só persoonlik: Ek ken julle verdrukking en julle armoede – en tog is julle ryk (Op 2: 9). En dan volg die oproep: Bly getrou tot die dood toe, en Ek sal julle die lewe as kroon gee (Op 1: 10).

Om vir jou geloof vervolg te word, is nie iets nuuts nie. Vandag, 23 Augustus, word die Bartolomeusnag van 1572 wêreldwyd herdenk. In daardie nag, kort ná die huwelik van die Protestantse Hendrik van Navarra met die Katolieke Margaretha van Valois, het politieke en godsdienstige spanning in Frankryk in bloedvergieting ontaard. Duisende Franse Hugenote is in Parys en ander stede vermoor omdat hulle nie hul Protestantse geloof wou prysgee nie. Hulle het vasgestaan – soos die gemeente van Smirna.

Meer as 450 jaar later is daar steeds gelowiges wat swaar betaal vir hul belydenis van Christus. In lande soos Noord-Korea, Iran en Somalië word Christene gearresteer, gemartel of selfs tereggestel – bloot op grond van hul geloof. Tog leef ons, as Suid-Afrikaners, meestal in vryheid: sonder vrees, sonder vervolging – maar, dit beteken nie dat ons nie ook uitgedaag word nie.

Die vraag bly: Hoe lyk volharding as dit nie ons lewe kos nie, maar wel ons gemak, reputasie of ons gewildheid?

Volharding vir ’n gelowige gaan verder as ’n bereidheid om vir ons geloof te sterf – dit vra ons ook om daarvoor te lééf: om nie stil te bly of kompromieë te maak nie, maar om in liefde vas te hou aan Christus, die Eerste en Laaste, wat die dood oorwin het en wat die kroon van die lewe belowe aan dié wat getrou bly.

Dr Bernard Prinsloo, Onverwacht