Openbaring 3: 7-13
Die stad Filadelfia was klein, nie bekend vir politieke invloed of militêre mag nie, maar vir sy ligging op ’n strategiese pad en sy volgehoue stryd teen aardbewings. Te midde van hierdie broosheid, leef ’n klein gemeente aan wie Christus ’n brief sonder vermaning rig: Ek weet wat julle doen. Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgemaak wat niemand kan toesluit nie (Op 3: 8).
Hierdie oop deur is ’n uitnodiging om God te dien – met min krag, maar met groot getrouheid. Die gemeente het nie status of sigbare impak gehad om op te roem nie, tog sê Christus: Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie (Op 3: 8b).
Wanneer ’n gelowige eerlik kyk, is dit maklik om klein te voel: oor jou rol in die kerk, oor jou eie geloofspad, oor hoe min jy soms regkry. Christus kyk egter anders. Hy soek nie roem nie – Hy eer getrouheid. Dit is nie jou krag wat deure oopmaak nie, maar Christus se genade.
Wat beteken dit vandag om so ’n deur raak te sien? Dit kan wees:
’n stil versoek van iemand wat smag na hoop – en jy kies om te luister;
’n moeilike situasie waar jy geroep word om vas te staan by die waarheid;
’n pad van diensbaarheid, sonder erkenning, sonder opspraak – maar vol geloof.
Die vraag is nie: Het ek genoeg invloed? nie, maar eerder: Sal ek die deur instap wat Christus oopmaak? Soos Hebreërs 10: 38-39 sê: En wie deur My vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe; maar as hy terugdeins, het Ek aan hom niks meer nie. Maar ons is nie van dié wat terugdeins en verlore gaan nie; nee, ons glo en ons sal lewe.
Christus se belofte is ryk: Ek sal jou ’n pilaar in die tempel van my God maak… en Ek sal op jou die Naam van my God skrywe (vergelyk Op 3: 12). In ’n wêreld van verbygaande opsies en eie ambisie, roep Hy sy kinders om getrou te wees – klein, maar gehoorsaam – in diens van ’n groot God.
Dr Bernard Prinsloo, Onverwacht