Openbaring 3: 14-22

Laodisea was ’n strategiese, ryk stad, bekend vir sy bankstelsel, swart wol en mediese sentrum met oogsalf. Hierdie stedelike trots het oorgevloei na die gemeente: Ons is ryk, skatryk, en ons het niks meer nodig nie (Op 3: 17a), maar Christus kyk anders. Hy spreek hulle toe met ’n skokkende teenstelling: …en julle weet nie dat julle ellendig en beklaenswaardig is nie, arm, blind en kaal (Op 3: 17b). Uiterlike oorvloed was innerlike geestelike bankrotskap. Sy brief aan Laodisea is skerp, maar eerlik en deursigtig.

Wanneer ’n gelowige eerlik kyk, word dit duidelik hoe maklik selfvoldaanheid in ’n mens se geloofslewe insluip. Wanneer alles aan die buitekant goed gaan – wanneer ons genoeg het, betrokke is en selfs geestelik aktief lyk – is dit maklik om te dink dat ons naby aan God is, terwyl ons in werklikheid geestelik afgemat en oppervlakkig geword het.

Selfvoldaanheid is gevaarlik, want dit maak jou blind vir jou afhanklikheid van Christus. Soos Paulus in 2 Korintiërs 13:5 sê: Stel julleself op die proef en ondersoek julleself of julle in die geloof lewe. Besef julle dan nie self dat Christus Jesus in julle is nie? So nie, het julle die toets nie deurstaan nie.

Die uitnodiging is nie om ons geloof weg te gooi nie, maar om dit eerlik te evalueer:

Is Christus nog sentraal?

Is daar ware gemeenskap met Hom – of net vorm sonder inhoud? Chistus bied genadige raad: Koop van My goud wat deur vuur gelouter is… wit klere om julle naaktheid te bedek… en oogsalf om weer te kan sien (vergelyk Op 3: 18). Hy bied presies dit wat hulle gedink het hulle reeds het – maar op geestelike vlak, waar dit werklik saak maak.

Wanneer ’n gelowige eerlik kyk, is die gevolg nie net ’n ontdekking van tekortkomings nie, maar ’n uitnodiging tot herstel. Selfvoldaanheid sluit Christus stilweg uit – maar selfs dan staan Hy buite en klop.

Die belofte is kragtig: Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek saam met My op my troon laat sit… (vers 21). Nie omdat jy alles het of volmaak is nie, maar omdat jy oopgemaak het, omdat jy Christus weer toegelaat het om die sentrum van jou lewe te wees.

Dr Bernard Prinsloo, Onverwacht