Markus 2: 22
Niemand gooi ook nuwe wyn in ou velsakke nie, want dan laat die wyn die sakke oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Nuwe wyn word in nuwe sakke gegooi (Mark 2: 22).
Daar is ’n winkelsentrum in ons omgewing wat opknapping ondergaan het. Die nuwe voorkoms van die sentrum was skoon, vars en stylvol. Die assistent agter die toonbank het ’n mooi nuwe uniform gedra, maar… sy het heel duidelik nie die memo ontvang nie want die werknemer se gesindheid was egter onveranderd – sy het steeds dieselfde nors voorkoms as voorheen gehad. Haar gesindheid het onbewustelik afbreek aan hierdie opknappingswerk gedoen.
Dit het my laat dink oor hoe ons probeer om nuwe wyn in ou leersakke te gooi. Jesus sê as ons dit doen, sal ons beslis misluk, want …doen jy dit tog, gaan die wyn die sakke laat oopbars, en die wyn sowel as die sakke gaan verlore. Hierdie vers moet ons laat besef dat ons nuut gemaak is – ’n nuwe skepping. Ons word nie meer deur ons ou gedrag geken nie, ons word deur ons verhouding met Christus beheer.
Tog is dit vir ons so moeilik om met ’n nuwe gesindheid te leef. Die nuwe wyn van onvoorwaardelike liefde, en goedhartigheid, word geskink in die ou leersak van haat vir ons kollegas of vir die gesin wat twee deure van ons af bly. Die nuwe wyn van aanbidding en stil word voor God, word gegiet in die ou leersak van verafgoding van geld en mag. Die nuwe wyn van gehoorsaamheid, word gegooi in die ou leersak van besig wees met onbenullighede en ons eie behoeftes wat tog so belangrik is. Die nuwe wyn van nederigheid, word geskink in die ou leersak van verwaandheid. Die nuwe wyn van vergifnis, geskink in die ou leersak van woede en van bitterheid.
Dit is tyd dat ons die memo kry en ons gesindheid verander. Dit is tyd om die ou leersak weg te gooi en God toe te laat om jou ‘n kragtige, nuwe, skepping te maak.
Ds Yolandé de Lange, El-Flora