Filippense 2: 14-15

Doen alles sonder kla of teëpraat (Fil 2: 14). Sorg dat julle bo alle verdenking staan en opreg bly, onberispelike kinders van God te midde van ontaarde en korrupte mense. Tree onder hulle op as ligdraers in die wêreld deur die woord van die lewe uit te dra (Fil 2: 15).

Die lewe is nie elke dag ’n lieflike sprokie nie, nè? Baie keer werk dinge nie uit soos ons gedroom of gehoop het dit sou nie. Elke nou en dan klop die lewe aan ons deur en prop ’n paar suurlemoene in ons arms.

Dink vir ’n oomblik aan die teleurstellings waardeur jy al is. Dalk beland jy meer as wat jy sou wou in ’n verkeersknoop, dalk het jy ’n verpeste slaggat getref en met ’n pap band gaan staan. Of dalk speel die weer nie saam as jy ’n heerlike buiteligfunksie reël nie… of erger. Ons almal kry maar ons deel van suuromstandighede.

Die vraag is egter: Hoe hanteer jy dit? Mor en mompel jy daaroor? Dreineer dit jou energie en steel dit jou lewensvreugde?

Soms het ’n mens nie eers lus om aan te gaan nie, uit vrees vir verdere teleurstelling. Die vers in Filippense 2 herinner ons om nie uit gewoonte te kla nie, want ons is ligdraers in die wêreld. As ons na Paulus kyk, sien ons dat hy ook sy bekommernis oor bepaalde sondes en tekorte in hierdie gemeente gehad het. Dis egter opvallend hoe Paulus dit benader. Voordat hy die sake aanspreek gee hy uiting aan sy dankbaarheid.

Dit sou verstaanbaar wees indien Paulus in sy omstandighede ook begin het om oor sy moeilikhede te kla. Hy was in die gevangenis en hy het al ’n hele paar suuroomblikke in sy lewe beleef. Maar wat doen Paulus? Hy begin sy brief nie met klagtes nie, maar met danksegging. Hoe aangenaam is dit om in jou lewe dankbare mense te ontmoet.

Die Here vra van ons om ’n positiewe lewensingesteldheid te behou. Mag ons ’n doelbewuste poging aanwend om limonade te maak as die lewe vir ons suurlemoene gee.

Ds Yolandé de Lange, El-Flora