Efesiërs 2: 10
Nee God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (Ef 2: 10).
Wanneer ons vakansie by die see hou, kan ek vir ure na die kinders kyk wat skulpies op die strand optel. Party kies net die mooiste, perfekte skulpies uit om saam met hulle te neem, maar ons dogtertjie, so klein soos wat sy is, sien die waarde van die stukkende skulpies wat see en die sand en die rotse beskadig het. Ek het haar aanvanklik aangemoedig om dit terug te gooi, maar keer op keer was sy opgewonde oor nog ’n skulpie – stukkend of nie.
So tel ons die maar die gebreekte skulpies op en daar leer ons ook sommer iets van liefde en genade want in hierdie vers in Efesiërs 2 lees ons: God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het. Dit leer ons dat in Christus geen gelowige sonder waarde is nie. Stephan Joubert skryf: Jesus het ’n radikale nuwe manier van leef in die genadige teenwoordigheid van God daar kom stel. Jesus kom leer ons dus hierdie lewenswyse onder God se genade. Genade is die een woord wat die Christelike godsdiens van alle ander onderskei. Ek is gered en uit dankbaarheid wil ek my besig hou met goeie dade. Daarvoor het God vir gelowiges in Christus die lewe gegee.
Ons samelewing wil so graag ons neus optrek vir stukkende mense, verby hulle stap in ons soeke na perfeksie, maar ons vergeet ons is almal op een of ander manier ’n stukkende skulpie, gemaal deur die stampe en stote van die lewe, maar ons is geskep om goeie dade vir mekaar te doen.
Mag ons getuies van God se genade wees deur goed aan ander te doen.
Ds Yolandé de Lange, El-Flora