Jeremia 29: 11

In ’n wêreld gevul met onsekerheid, herinner God ons aan die waarde om te blom waar ons geplant is. Soms bevind ons onsself in die lewe in omstandighede wat nie ideaal lyk nie. Maar tog in hierdie omstandighede kan ons blom waar ons geplant is.

Jeremia 29: 11 sê vir ons: Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting.

Die Here het, ’n plan met elkeen van ons en om te blom waar jy geplant is, beteken om jou gawes en energie te gebruik ongeag jou omstandighede. Daar waar jy is, kan jy ’n verskil maak.

Neem vandag ’n oomblik en vra: Hoe kan ek in my huidige situasie vrug dra vir God en vir ander? Hoe kan ek met liefde, geduld en ’n dankbare hart my omgewing beïnvloed? Onthou, jy is ’n unieke skepping van die Here en die Here sal jou help om te blom selfs in uitdagende grond.

Laat ons elke dag streef om lig en hoop te bring waar ons geplant is, sodat God verheerlik kan word deur die vrugte wat ons lewens voortbring.

En mag ons elke dag onthou die Here het ’n plan met ons elkeen en stap elke tree van die pad saam met ons.

Lees gerus Gesang 528: Leer my u wil, Heer.

Leer my u wil, Heer, u doel met my

U, Pottebakker, met my, die klei.

Vorm my en maak my volgens u wil;

Op U vertrou ek, nederig stil.

Leer my u, wil, Heer, u plan vir my;

laat ek nie doelloos, nutteloos bly.

Hou my erkentlik, Heer in u werk:

As ek dan swak is, maak U my sterk.

U gee u gawes net soos U wil;

Almal is diensbaar, elk met verkil.

Vul met u Gees my breekbare kruik,

Dat U my oral nuttig gebruik.

Dr Antionette Janse van Rensburg, Universiteit van Pretoria / Montana