Spreuke 3: 5-6
Elke nuwe dag bring sy eie uitdagings asook seëninge mee. Soms voel ons moedeloos, asof ons geen krag het om vorentoe te gaan nie. In Jesaja 40: 31 lees ons: maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie. Hierdie belofte herinner ons dat krag nie uit onsself kom nie, maar uit God se hand.
God se krag is soos manna – daar is genoeg vir elke dag. Wanneer ons op God vertrou, sien ons hoe God ons dra, hoe God ons toerus en lei. Die Here se genade is elke oggend nuut en ons kan met vertroue weet dat die Here vir ons genoeg krag gee vir vandag. Al wat ons moet doen, is vertrou.
Begin vandag jou dag deur jou hart op die Here te rig. Dank die Here vir voorsiening en vra vir die krag om jou roeping met blydskap uit te leef. Neem ’n oomblik om jou bekommernisse voor die voete van die Here te lê. Daar is geen uitdaging te groot vir God se krag nie, en geen dag so donker dat die Here se lig nie kan deurbreek nie. Leef vandag met die wete dat jy bemagtig is deur die Skepper van die heelal die Een wat jou liefhet en nooit sal verlaat nie. En vertrou die Here vandag in alles wat jy doen.
Lees gerus: Gesang 514:
Ek weet vir seker.
Ek weet vir seker: Jesus is Heer
Hy het my sonde uit liefde vergeef.
Ek was verlore, maar is gevind;
Nou het ek vrede – ek is Gods kind.
Hy is my leidsman – Hy laat my leef.
Hy is oorwinnaar – Hy is die Heer.
Uit sy genade, liefde en trou,
weet ons hoe God sy kinders behou.
Lig is sy las en sag is sy juk.
Hy gee vermoeides die ware geluk.
Selfs as ek struikel, en dit berou-
Hy sal vergewe, Hy bly getrou.
Hy is my leidsman – Hy laat my leef.
Hy is oorwinnaar – Hy is die Heer.
Uit sy genade, liefde en trou,
Weet ons hoe God sy kinders behou.
Dr Antionette Janse van Rensburg, Universiteit van Pretoria / Montana