Psalm 8

As ons na die skepping rondom ons kyk, na die grootheid van die ruimte, al die diere groot en klein, die diepte van die see en alles wat daarin leef dan kan ons maar vra: Maar wie is ek dat die Here na my omsien? Wie is ek dat die Here my ken? Wie is ek dat die almagtige God my in sy hand vashou en beskerm? Selfs wanneer ons daardie vrae vra, weet ons dat die Here my op die naam ken, dat daar nie ’n haar van ons kop val sonder dat die Here daarvan weet nie. En daarom juig ons saam met die Psalmdigter: Here, ons Here, hoe wonderbaar is u naam oor die hele aarde (Ps 8: 10)! En terwyl ons daardie vrae vra het ons ook die voorreg om in ’n persoonlike verhouding met die Here te mag leef en ook sy naam in gebed te mag aanroep.

Gebed

O Gees van God, wie se stem, ek op die wind kan hoor

en wie se asem lewe aan die hele skepping gee,

hoor my gebed!

Ek wat swak en nietig is, maak staat op u mag en wysheid.

Laat my die skoonheid van die skepping ervaar,

en laat my oë altyd die rooi en purper sonsondergang aanskou.

Laat my hande die werk van u hande eerbiedig

en my ore die geruis van u stem hoor.

Gee dat ek die lesse sal leer wat U in elke blaar en klip bewaar het.

Gee my krag, nie om sterker as my broer te wil wees nie,

maar om my grootste vyand – myself – te oorwin.

Maak my altyd gereed om voor U te staan

met rein hande en ’n opregte hart.

(Gebed van ’n Noord-Amerikaanse Indiaan, Jakota – Yellow Lark – 1887)

Ds Liza Jansen, Witbank-Suid