Matteus 6: 25-34
Hoe belangrik is dit vir jou om te rus, om te herlaai? Hierdie kan dalk klink na ’n maklike vraag met ’n maklike antwoord, maar in die tyd waarin ons leef raak dit al hoe belangriker en ongelukkig al moeiliker. In ’n wêreld waar uitslae, status en prestasie belangriker is as mense se eie welstand is dit maklik om meegesleur te word daarin en op daardie trein te klim net om êrens te kom in die lewe. Om anders as die wêreld te leef beteken ook om te kies vir wat werklik belangrik is en dit geld ook vir jou tyd.
Wat DOEN jy om jou batterye te herlaai? Net soos enige elektroniese toestel nie gaan laai as jy hom net bietjie laat lê vir ’n rukkie nie, gaan dit jou ook nie veel help nie. Soos daardie toestel moet ’n mens iewers ingeprop wees. Dit is soms belangrik om net te lê, maar ons moet die bietjie tyd wat ons het om te rus ook regtig goed gebruik en moet daarom dinge doen wat ons werklik energie gee.
Ons kyk maklik die mooi in die lewe, die gawes uit die Here se Hand, mis. Daarom is dit nodig om elke dag moeite te doen om iets besonders raak te sien, en te onthou alles kom van God af en Hy sorg elke dag vir jou. Hierdie gaan nie net daaroor om lekker te rus en mooi dinge te beleef sodat ons net lekker kan voel nie. Dit gaan ook daaroor om weer op God te fokus. Om te onthou dat Hy die Middelpunt, die Skepper, die Gewer van alles is.
Daar gebeur ’n belangrike ding wanneer ons na die wilde voëls en die veldlelies kyk. Ons moet raaksien dat die Here vir ons gee wat ons nodig het en dat Hy vir ons sorg. Maak vandag moeite om dít raak te sien.
Gebed
Dankie dat ons ons rus in U mag vind. Amen.
Ds Liza Jansen, Witbank-Suid