Handelinge 17: 26-27

Hierdie verse wat ons gelees het, herinner ons aan ’n diepgaande waarheid: God is almagtig en heers oor elke aspek van ons lewens, ook waar en wanneer ons leef. Dit is nie per toeval dat jy op hierdie spesifieke tyd in die geskiedenis leef, of jou vandag op ’n spesifieke plek bevind nie. Volgens Paulus het God elkeen van ons met ’n spesifieke doel in ons unieke omstandighede geplaas om Hom te soek en te vind.

In ons vinnige wêreld is dit maklik om die belangrikheid van die plek en tyd waarin ons leef, mis te kyk. Ons wonder miskien waarom ons op ’n spesifieke plek is, in ’n sekere dorp bly of hoekom sekere dinge gebeur wanneer dit gebeur. Hierdie verse verseker ons egter dat God in beheer is. Hy bepaal hoe lank ons sal bestaan en waar ons sal woon. Ons lewens is nie sommer maar net nie, maar deel van ’n goddelike plan.

Kom ons dink na oor die feit dat God ons vir ’n rede geplaas het waar ons nou is. Jou omstandighede, hoe uitdagend of verwarrend dit ook al mag wees, is deel van God se groter plan. Vra jouself af hoe jy God in jou situasie op ’n dieper manier kan soek. Is daar geleenthede om nader na Hom te groei, om deur gebed na Hom uit te reik of sy teenwoordigheid op nuwe maniere te ontdek? Vertrou dat in elke seisoen en op elke plek God aan die werk is om jou nader aan Hom te bring.

Gebed

Almagtige God, dankie dat U my volgens u plan in hierdie spesifieke tyd en plek geplaas het. Help my om u doel vir my lewe te ontdek en U met my hele hart te soek. Gee dat ek in alle omstandighede na U sal uitreik en dat ek troos sal vind in die wete dat U altyd naby is. Lei my op die pad en help my om in u volmaakte tydsberekening en goddelike plasing te vertrou. Amen.

Ds Liza Jansen, Witbank-Suid