Job 38: 24-38

Het jy al beleef hoe sterk die wind deur die nag kan waai? Dit kan behoorlik klink soos ’n groot storm wat wil aankom. Maar dan word jy in die oggend wakker en die hemel is weer oortrek met ’n wolkkombers en kry ons weer lekker koud. Maar die lente is in die lug, al is dit nog bietjie koelerig – ’n mens ruik die lente aankom. En soos wat die son weer alles begin ontdooi, voel dit sommer weer soos ’n nuwe lewe.

Die draai van die seisoen kan maklik by ons verby gaan as maar net weersomstandighede. Maar as ’n mens net vir so ’n oomblik weer presies onthou van al die fisiese magte wat in spel is wat ons seisoene laat draai, dan besef ’n mens weer die wonder en die grootheid van ons God. Dat Hy alles gemaak het en dit so in plek hou. Ook die seisoene is in sy hand. Die wind en die wolke, die hitte en die koue. Dit alles kan ons met allerhande wetenskaplike formules en mikroskope, teleskope en barometers en watse skope of meters ook al verduidelik. Maar dit is God wat dit gemaak het en sy skepping in stand hou.

Job is ’n ingewikkelde boek wat ’n mens eintlik in sy geheel moet aanpak. Maar hier aan die einde van die boek vra die Here vir Job ’n klomp vrae, wat Job natuurlik laat besef dat Hy nie opgewasse is teen God nie. In hierdie vrae openbaar die Here eintlik oor en oor nog meer oor Homself. Dit is Hy wat al hierdie dinge doen. Hy is die Almagtige wat alles (en vir jou en my!) in sy hand hou. Aan Hom kom al die eer toe.

Gebed

Dankie Here dat ons u hand ook in die seisoene rondom ons mag sien. Amen.

Ds Liza Jansen, Witbank-Suid