Genesis 39: 20b-21

Mark Manson het gesê: Die grootste verandering in perspektief by mense gebeur gewoonlik naby die einde van ons ergste oomblikke. Die intense pyn van krisisse dwing ons om belangrike vrae oor God te vra, die betekenis van lewe, en waarom my keuses nie meer werk nie. Het jy dit al so ervaar?

In ons teksgedeelte is Josef in die tronk, ’n laagtepunt van sy lewe. Hier, aan die einde van sy ergste oomblik lees ons: Terwyl Josef daar in die tronk was, was die Here by hom, en Hy het Josef sy troue liefde laat ondervind, sodat die tronkbewaarder hom goedgesind geword het.

Daar in die tronk ervaar Josef dat God hom liefhet en steeds by hom is. Dit word die wentelpunt in sy lewe wanneer die tronkbewaarder se gesindheid teenoor hom verander. God openbaar Hom aan ons met die koms van Jesus Christus. Hy verseker ons van sy troue liefde in ons ergste oomblikke.

So, hou aan bid tot God vir antwoorde en rigting, evalueer die betekenis van jou lewe en bevraagteken jou keuses wat nie werk nie. Doen dit met die sekerheid dat Jesus die donker klaar oorwin het en dat die Heilige Gees kragtig in jou werk. God is getrou en, soos by Josef, is Hy ook naby jou in jou krisis om verandering te bring.

Gebed

Here, ons hemelse Vader, U is getrou, selfs in die donkerste tye van ons lewens. Soos U by Josef in die tronk was, is U ook by ons in ons laagtepunte. U verlaat ons nie, maar openbaar u liefde en teenwoordigheid juis wanneer ons dit die minste verwag. Dankie dat U deur Christus ons donker reeds oorwin het en dat die Heilige Gees kragtig in ons werk om hoop, wysheid en rigting te gee.

Leer ons om ons lewens eerlik te ondersoek, ons keuses te bevraagteken en met vertroue tot U te roep. Vorm ons, Here, selfs deur pyn, tot u eer. Ons vertrou u liefdevolle hand, wat selfs tronkdeure gebruik om genade oop te sluit. Amen.

Ds Danie Taljard, Sionshoogte