1 Samuel 30: 1-8

Het jy al iets beleef dat jy net kon huil totdat daar niks oor is om mee te huil nie? Dalk ’n verlies of skoknuus wat jou heeltemal platgeslaan het? Dawid het ook só ’n oomblik beleef en hoe hy dit hanteer het, gee ons vandag rigting en hoop.

In die teksgedeelte vlug Dawid vir Saul en vestig hom met 600 manskappe in Siklag, in die land van die Filistyne. Hulle veg as huursoldate. Maar een dag, toe hulle moeg terugkeer, vind hulle Siklag afgebrand. Die Amalekiete het hul vroue en kinders ontvoer. Hulle huil tot hulle nie meer kan nie. Dawid self het alles verloor en sy manne wil hom doodmaak.

Tóg lees ons van ’n keerpunt: Maar Dawid het homself versterk in die Here sy God (1 Sam 30: 6, AFR33/53).

Dawid doen drie dinge wat hom versterk:

Hy bid voordat hy baklei.

Hy reageer nie impulsief op die krisis nie. Hy vra vir die priester se skouerkleed en gaan aanbid God. Die krisis word nie meer die middelpunt nie, maar God word nou in die sentrale posisie geplaas.

Hy vra rigting.

Hy vra vir God se wil: Moet ek hulle agtervolg? God antwoord: Ja. Selfvertroue kom nie uit emosie nie, maar uit God se leiding. Baie van ons bid, maar vergeet om te luister en raad te vra.

Hy tree regverdig op.

Sy manskappe wou hom doodmaak, maar hy wreek hom nie. Hy laat hulle eers rus. Later, wanneer die buit verdeel word, deel hy dit ook met dié wat agtergebly het.

Dawid wys ons: Jy kan in ’n krisis vasgevang wees, maar God kan jou versterk, rigting gee en leer om reg op te tree. Dis dán wanneer jy weer beheer kry en die pad vorentoe vind.

Gebed

Here ons God, U is ons toevlug en krag. In tye van nood en verwarring kom ons na U vir wysheid en troos. Lei ons deur u Woord en Gees en versterk ons in geloof. Ons bid dit in die naam van Jesus Christus. Amen.

Ds Danie Taljard, Sionshoogte