Spreuke 4: 23
In die Skrif is die hart nie net die setel van emosies nie, maar die sentrum van die hele mens, naamlik die bron van denke, wil, begeertes en geloof. In die lig van God se koninkryk besef ons dat die hart bewaar moet word – nie net teen wêreldse invloede nie, maar ook teen ongeloof, wanhoop en selfgerigtheid. Want uit die hart vloei óf lewe tot eer van God óf dade wat Hom verloën.
Vrees, angs en beklemming is eg menslike reaksies, maar ons mag dit nie losmaak van die groter verhaal van God se verlossing nie. In Christus het God ons nie net troos belowe nie, maar ook oorwinning oor sonde, dood en vrees. In Hom is ons nie net veilig teen aardse gevare nie, maar ons het ’n ewige toevlug in die hemelse erfenis wat ons in die koninkryk van God gegee is.
Wanneer ons harte wanhoop ervaar, herinner jouself wat in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 1, staan: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe? Dat ek met liggaam en siel, in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.
Mense leef in verskillende omstandighede, van oorvloed tot gebrek, van saamwees tot eensaamheid. Maar binne die koninkryk van God is niemand vergete nie. Ons word geroep om mekaar te dra, mekaar lief te hê, en Christus se lig en liefde uit te dra, veral na dié wat ly.
Mag die lied van die engele in Lukas 2: 14 jou hart weer vul met verwondering: Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het! Hierdie vrede is nie bloot ’n gevoel nie, maar ’n werklikheid wat Christus gebring het, vrede tussen God en mens, deur sy kruis en opstanding.
Mag ons harte gevul wees met dankbaarheid vir die verlossing wat ons in Christus ontvang het, en ’n hernude toewyding om as kinders van sy koninkryk te leef.
Ds Danie Taljard, Sionshoogte