Galasiërs 5: 1-13

Ons word nie gered deur diens nie, maar tot diens. Die bekende antropoloog Margaret Mead het gesê dat die eerste teken van beskawing nie gereedskap of potte was nie, maar ’n gebreekte heupbeen wat aangegroei het, Dit was ’n teken dat iemand by die gewonde gebly het, versorg het en kos gebring het totdat die persoon herstel het. Diens aan ’n ander lê dus aan die hart van wat dit beteken om ’n gemeenskap te wees.

Ook Paulus beklemtoon in Galasiërs dat gelowiges nie vrygemaak is om hulself te dien nie, maar om mekaar in liefde te dien. Die dood en opstanding van Christus het ons bevry van die wet en sonde. Maar hierdie vryheid is nie ’n lisensie tot selfsug nie, dit is ’n roeping tot diens, gewortel in die liefde wat God aan ons bewys het.

In die gemeente en gemeenskap is daar talle mense wat met ’n figuurlike gebreekte heup leef deur die terugslae van die lewe. Dit het hulle tot stilstand geruk en veroorsaak pyn en verlies. Maar, soos met ’n gebreekte heup, is herstel moontlik waar daar liefdevolle versorging is. Gelowiges het nou die geleentheid om op te staan en, deur die krag van die Heilige Gees, te dien. Ons is geroep om nie net na onsself om te sien nie, maar juis na die wat geval het, die weerloses, die siekes, die bedroefdes.

In die tye van rampe in die wêreldgeskiedenis, het Christene nog altyd uitgestaan deur die onselfsugtige diens en hulp wat hulle gelewer het. Wanneer ons dien, word God se liefde sigbaar en tasbaar. Dis in hierdie daaglikse dade van liefde dat die koninkryk van God sigbaar word sodat elke knie buig en elke tong bely dat Jesus Christus die Here is.

Geliefdes, jy word nie net geroep om te oorleef nie, jy word ook geroep om te dien. Gebruik jou vryheid in Christus om ander op te help en saam met God aan die herstel en genesing van die wêreld om jou te werk.

Ds Danie Taljard, Sionshoogte