2 Korintiërs 11: 16-33
Ons het gister geleer dat storms deel van ’n mens se bestaan op hierdie gebroke en sondige aarde is. Paulus het storms geken en sy hantering daarvan is navolgenswaardig. As jongman kon Paulus droom van sukses en ’n goeie lewe, maar op pad na Damaskus het God in sy lewe ingeklim. Hy word die persoon wat alles in sy lewe opoffer om die evangelie aan die wêreld te gaan verkondig. Ons weet byvoorbeeld dat Paulus 16 000 km te voet vir die evangelie afgelê het, meestal in uiters gevaarlike omstandighede. Natuurelemente soos berge, gevaarlike diere, riviere ensovoorts was byvoorbeeld ’n uitdaging. Boonop was die paaie baie gevaarlik as gevolg van rowers wat mense gereeld van hul besittings wou beroof en reisigers selfs gevange sou neem en hulle dan as slawe te verkoop. Bykans die helfte van die bevolking van daardie tyd was inderdaad slawe.
In 2 Korintiërs 11 lys Paulus van die storms in sy lewe: Ek was meer kere in die tronk. Ek is uitmekaar geslaan en mishandel. Die Jode het my vyf keer nege en dertig houe geslaan. Drie keer is ek wreed met stokke geslaan. Een keer is ek met klippe gegooi en vir dood agtergelaat. Drie keer was ek op skepe wat gesink het. Ek het eenkeer ’n hele nag en dag hulpeloos op die oop see rondgedryf. Bo en behalwe hierdie storms was daar ook nog baie ander.
Hoe het Paulus dié storms in sy lewe aangepak? Ons kan onomwonde sê hy het altyd sy oog op die genade van God gehou en dit was vir hom genoeg. Meer spesifiek was dié genade vir Paulus die verlossing en redding wat daar in Christus Jesus is. Paulus sou in sy storms met woord en daad verkondig dat God se genade in lewe en in sterwe vir hom genoeg is.
In die tronk, onder haglike omstandighede, sing Paulus: Wees bly, ek herhaal, wees bly! Sy blymoedige hart bring mense nader aan God – en die tronkbewaarder en sy hele huisgesin kom tot bekering.
Dr Hannes Janse van Rensburg, Zuurfontein / SGB Interimbegeleiding