Psalm 56: 9; Johannes 20: 15
Baie studies reken dat net ongeveer 25% van mense luister regtig as ander met hulle praat!
Het jy al vir iemand van jou swaarkry vertel en die antwoord kom dadelik: Presies dieselfde het al met my gebeur. Een van die grootste foute wat almal van ons dikwels maak is om ware empatie te verwar met die oorvertelling van jou eie storie.
Psalm 56: 9a lees: My ellende het nie ongemerk by U verbygegaan nie, U het op my trane gelet.
In die antieke tyd was daar selfs ’n traanpot waarin trane opgevang en geberg is. In Johannes 20: 15 vra Jesus vir sy moeder: Mevrou, waarom huil jy? (Joh 20: 15). Dit is die eerste vraag wat Jesus na sy opstanding gevra het. ’n Vraag vol ware empatie. ’n Vraag vol liefde wat kon lei tot gesprek.
Henri Nouwen skryf dat om te luister soveel meer is as om bloot jou kans af te wag om ’n respons te lewer. Nouwen reken om waarlik te luister, is om iemand jou volle aandag te gee terwyl jy hulle as’t ware innooi om deel van jou menswees te word. Om te luister is ’n vorm van geestelike gasvryheid waardeur jy mense innooi om hulself beter te leer ken.
David Augsberger skryf: Being heard is so close to being loved, that for the average person they are almost indistinguishable.
Mag ons genade met mekaar hê omdat elkeen van ons dikwels maar besig is om sy eie oorlog te voer. Mag ons nooit vergeet dat elke mens wat ons langs die pad ontmoet sy eie storie het nie. Wanneer ons iemand langs die pad ontmoet wat in hul poel trane sit, is ons op heilige grond. Kom ons sit, wees stil en luister waarlik.
Gesang 571: 4:
As u guns ons hier benede
Soveel lewensvreugde bied,
Watter saligheid en vrede
Sal ons eens by U geniet
As ons deur U gees se leiding,
Met die diepste hartsverblyding,
Van U, Heer, ontvang die kroon,
Voor u heil’ge hemeltroon!
Ds Lydia Miller, Villiers