Matteus: 6: 33
Daar is lekker soek en daar is sleg soek. Om na jou bril te soek is sleg soek. By ons huis kom alles tot stilstand as my bril of ’n kind se das soggens soek is. Ek soek ook daagliks na my beursie of my selfoon.
Dan is daar ook lekker soek. Om die die Wildtuin te ry en te soek na diere is een van my gunsteling soeke.
Maar dan is daar ’n belangriker soek – die soeke na die Koninkryk van God. Die 1933-vertaling vertaal Matteus 6: 33 met: Maar soek allereers die Koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Die Griekse woord vir Koninkryk is basileia. Matteus 6: 33 roep God se kinders op om God se dinge eerste te stel – om elke dag in ons handel en wandel vir onsself af te vra: Waar is God se basileia?
Die teoloog Trevor Hudson beskryf die Koninkryk van God met die droom van God as hy skryf: From the beginning of his public ministry, Jesus’ life and message revolved around God’s dream for the world. In the familiar language of the first-century Jewish world, He called his dream ‘the kingdom of God’. God’s kingdom is where God rules and reigns, it is where God’s will is one, where what God wants to happen, really does happen.
Ons is elke dag blootgestel aan verskeie keuses en geleenthede. Daar is soveel verskillende maniere hoe ons beide ons tyd en energie kan spandeer. Elkeen moet daagliks self die keuses maak. Dietrich Bonhoeffer verwys na ’n geloof waaraan ’n koste verbonde is want as ons waarlik na God se Koninkryk soek, beteken dit dat ons soms ’n prys daarvoor moet betaal. Martin Luther het geskryf: The kingdom of God does not consist in talk, but in power, that is, in works and in practice.
Waarna soek jy tans in jou lewe?
Gesang 471: 1:
Soek allereers die koninkryk van God;
en sy geregtigheid.
Wat julle nodig het sal die Vader dan
vir julle gee uit sy oorvloed.
Ds Lydia Miller, Villiers