Markus 12: 38-44 (AFR2020)

In Markus 12 onderrig Jesus die dissipels na aanleiding van sy vroeëre strydgesprekke met die Fariseërs, Sadduseërs en Skrifkenners. Die eerste gedeelte van Jesus se onderrig bevat ’n waarskuwing teen die skrifkenners: Pasop vir die Skrifkenners wat die huise van weduwees verslind! Die tweede gedeelte van Jesus se onderrig bevat ’n voorbeeld van geloof wat eerder nagevolg kan word: Kyk na hierdie weduwee, wat haar hele lewe in die offergawekis ingooi.

Jesus se waarskuwing teen die Skrifkenners spruit uit die toestand van die tempelsisteem van sy tyd. In plaas daarvan dat die tempel ’n plek van aanbidding was, het die leiers van die tempel eer, aansien en status nagestreef. Boonop het hulle die mense ingedoen deur die huise van die weduwees te verslind. Dit het hulle gedoen deur tiendes te eis wat die weduwees nie kon bekostig nie en deur die wanbestuur van weduwees se bates wat aan die Skrifkenners toevertrou is. Die tempelsisteem was gebroke, korrup.

Teenoor die korrupte Skrifkenners, staan die weduwee wat haar laaste paar sent in die offergawekis ingooi. In die Grieks staan daar sy gee haar hele lewe. Maar die weduwee se handeling strek ook dieper. Op grond van Jesus se veroordeling van die korrupte tempelsisteem, is die tragiese werklikheid dat hierdie weduwee haar laaste bietjie lewensonderhoud gee vir ’n stukkende sisteem. Die weduwee se offergawe is ’n illustrasie van sistemiese ongeregtigheid wat aangerig is deur mense wat juis moes omgee. Maar dalk is die weduwee se offergawe tog ook ’n uitdrukking van haar vertroue in God te midde van ’n wêreld wat opgemaak is uit stukkende mense en stukkende sisteme.

Die voorbeeld van die weduwee wil ons tot geloof rig. Geloof wat besef dat wanneer ons alles gee, ons hele lewe as offer aan God gee, dan kan ’n mens ten spyte van ’n gebroke werklikheid vervulling vind. Vertroue in God stel nie teleur nie. Dit weet ons omdat Jesus juis gekom het om stukkende sisteme heel te maak, om die gebroke wêreld te genees en ons verhouding met God te herstel.

Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom