Hebreërs 11: 1-16

Ontnugter. Hierdie woord is waarskynlik ’n raak beskrywing van hoe ons die lewe met tye ervaar. Om ontnugter te wees, beteken dat jy van alle illusies ontneem word, dat jy ruwe teleurstelling beleef. As gelowiges probeer ons om vanuit ons geloof sin te maak van ontnugtering, want dit laat bepaalde geloofsvrae ontstaan. Dit laat ons besef dat geloof ons nie vrywaar van lyding of swaarkry nie.

Die Hebreërs-boek toon begrip vir so ’n ontnugtering in die geloof. Die boek is gerig aan Christene wat vanuit ’n Joodse agtergrond gekom het, maar wat vanweë hul assosiasie met Jesus vervolging en vervreemding beleef het. Die skrywer moedig hierdie gelowiges aan om te volhard in die geloof deur voorbeelde te gee van regte mense wat deur die geskiedenis heen hul geloof ten spyte van ontnugterings beoefen het. Hy vertel van Abel, Henog, Noag en Abraham – almal mense wat deur God as regverdig beskou is vanweë hul gehoorsaamheid aan en nabye verhouding met God.

In al hierdie voorbeelde sien ons hoe geloof aardse werklikhede transendeer. Geloof het nie alles altyd goed laat afloop vir hierdie gelowiges nie. Inteendeel, hul antwoord op God se roepstem het hul vervreemding laat beleef. Hulle was vreemdelinge en bywoners op aarde – uitgeskuif deur die mense en die wêreld rondom hulle. Tog het hierdie ontnugtering nie hul vreugde gesteel nie. Selfs al het hierdie mense gesterf sonder om noodwendig in hul leeftyd die vervulling van al God se beloftes te sien, kon hulle steeds juig omdat hulle in geloof geweet het dat hul tuiste by God is, dat hulle aan God behoort en sal tuiskom in die Vaderland.

Ontnugterde geloof is geloof met diepgang. Dit is geloof wat rekening hou met die harde werklikhede van die lewe. Geloof ten spyte van. Geloof wat deur worsteling heen groei. Geloof wat op pad is, wat verlang na die hemelse stad en op soek is na ’n Vaderland. Vir mense met so ’n geloof is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle ’n stad gereed gemaak.

Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom